Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Goeie nuus vir verbruikers met inflasie wat in Julie terugsak na 4,6-persent
# DebtBusters sê verbruikers maak steeds staat op lenings ten spyte van laer inflasie
# En, tennis: Nick Kyrgios is weer in aksie na ‘n jaar se gesukkel met beserings
# Jaarlikse verbruikers-inflasie het in Julie gedaal tot die laagste vlak sedert Julie 2021. Dit het verlede maand verstadig tot 4,6-persent vanaf 5,1-persent in Junie nadat dit tien maande lank tussen 5- tot 6-persent was. Laer jaarlikse koerse is aangeteken vir verskeie produkgroepe, veral voedsel en nie-alkoholiese drankies, vervoer, en behuising en nutsdienste. Die jaarlikse koers vir voedsel en nie-alkoholiese drankies is tans die laagste sedert September 2020. Groot jaarlikse prysstyings is aangeteken vir kitskoffie, sjokoladedrankies, gemaalde koffie, koffiebone en rooibostee.
‘n Verslag van DebtBusters sê intussen ondanks vele tekens wat dui op verligting, maak baie Suid-Afrikaners staat op lenings om finansiële druk te bestuur, soos hoё elektrisiteitstariewe, brandstofpryse en inflasie. Navrae oor skuldberading het met 18-persent gestyg, wat toon meer mense soek hulp om hulle skuld te bestuur. Die uitvoerende hoof van DebtBusters, Benay Sager, sê hoewel rentekoerse binnekort mag daal, sit verbruikers steeds met ‘n hoё skuldlas en verminderde koopkrag:
# Die Vereniging vir Staatsamptenare is ontsteld oor die ernstige tekort aan speurders in die Polisiediens waar meer as agt-duisend-500 poste vakant is. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het onthul daar is tans 22-duisend-413 speurders in diens teenoor die 31-duisend wat nodig is. Die vereniging sê die tekort laat baie sake onafgehandel en baie misdadigers bly ongestraf. Die vakbond vra die krisis moet onmiddellik aandag kry en ervare speurders moet behou word, en sê die situasie bedreig nasionale veiligheid en sekerheid.
# Drie mense is beseer in ‘n ontploffing by die Pietersburg-hospitaal in Polokwane, Limpopo, met die uitdiensstelling van ‘n magnetiese skandeerder. Die ontploffing het ‘n deel van die radiologie-vleuel beskadig. Die LUR vir Gesondheid, Dieketseng Mashego, het die versekering gegee radiologie-dienste sal voortduur met sommige pasiënte wat na ander hospitale verwys sal word. Sy sê die koste van die skade is nog nie bereken nie:
# Tennis: Die Australiër Nick Kyrgios is die eerste keer in meer as ‘n jaar weer op die baan na ‘n gesukkel met beserings. Die voormalige Wimbledon-finalis het in Junie verlede jaar laas mededingend gespeel, en het intussen gewrig- en knie-operasies ondergaan. Die 29-jarige Kyrgios gaan te sien wees in vertoonwedstryde in aanloop tot die Amerikaanse Ope, wat Maandag op Flushing Meadows in New York begin. Hy het nie ingeskryf vir die hardebaan-Grand Slam-toernooi nie. Kyrgios het in Oktober 2016 sy beste wêreldranglysposisie van 13 bereik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-318-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-506-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….