Nuus 11:00
BULLETIN 21 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tien afgedankte MK-partylede sê hul afdanking was onregmatig
# Barack Obama sê Amerika is gereed vir ‘n beter verhaal met Harris as president
# En rugby: Rassie Erasmus verwag ‘n strawwe toets teen die All Blacks
# Tien van die 18 afgedankte MK-partylede het die hof genader en beweer hulle skielike afdanking ‘n maand nadat hulle ingehuldig is, is onregmatig. Die party sê die lede is verwyder nadat bevind is hulle is per ongeluk ingesluit op sy parlementêre kandidatelys vir die verkiesing in Mei. Die tien lede voer aan hulle is verwyder om plek te maak vir EFF-oorlopers, wat dié party se voormalige adjunkpresident, Floyd Shivambu, insluit. Die saak word vandag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor.
# AfriForum sê die oorweldigende gebrek aan ondersteuning vir die Presidensiële Gesondheidsooreenkoms moet ʼn teken wees dat Suid-Afrikaners nie die Nasionale Gesondheidsversekering wil hê nie. Belanghebbers in die gesondheidsektor, insluitend sakeverteenwoordigers soos Business Unity South Africa, gaan nie die ooreenkoms in sy huidige vorm onderteken nie. Louis Boshoff van AfriForum sê volgens aanduidings gaan net 13 rolspelers dit onderteken, en drie van hulle is regeringsverteenwoordigers:
# Build One South Africa in Gauteng het die Openbare Beskermer gevra om die provinsiale regering se ooreenkoms met Family Tree Holdings en die Kathorus-winkeleienaarsvereniging te ondersoek. Die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling het dié maatskappye gekies om bepalings van die Gautengse Wet op Township-ontwikkeling uit te voer. Family Tree het 50-miljoen-rand ontvang terwyl die privaat sektor nog 50-miljoen bygedra het. BOSA se woordvoerder, Ayanda Allie, sê Ekurhuleni se township-entrepreneurs het niks ontvang nie, al kom hulle in aanmerking daarvoor:
# Die Amerikaanse oudpresident, Barack Obama, sê die Demokrate se presidentskandidaat, Kamala Harris, en haar verkiesingsvennoot, Tim Walz, verteenwoordig ʼn Amerika waar almal weer na mekaar omsien. Hy het Harris passievol ondersteun op die tweede aand van die Demokratiese Nasionale Konvensie in Chicago. Obama sê die meerderheid Amerikaners wil nie in ʼn land bly wat bitter en verdeeld is nie:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê sy spelers sal fisies en geestelik gereed moet wees vir die twee Rugbykampioenskaps-toetse teen Nieu-Seeland. Hy het ʼn groep van 37 spelers gekies vir die twee uitverkoopte toetse op die 31ste op Ellispark en die ander een ʼn week later in Kaapstad. Steven Kitshoff, Jaden Hendrikse en Canan Moodie is ook ingesluit. Erasmus sê hulle besef hoe belangrik dit is om alles in hierdie wedstryde te gee en hul hoop lewend te hou om die titel die eerste keer sedert 2019 te wen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar,19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-588-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-515-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….