Nuus 08:00
BULLETIN 21 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie sê Zondo het die respek van Suid-Afrikaners verdien
# President Ramaphosa magtig die Spesiale Ondersoekeenheid om die OR Tambo-munisipaliteit te ondersoek
# En Kamala Harris aanvaar die Demokratiese presidensiële benoeming
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, sê uittredende hoofregter Raymond Zondo het deur sy diens die bewondering, respek en dankbaarheid van alle Suid-Afrikaners verdien. Hy is gisteraand by ‘n afskeidsete in Johannesburg vereer. Zondo tree die einde van die maand af ná ʼn loopbaan van 27 jaar in die regswese. Simelane sê die geskiedenis sal vertel dat Zondo in die staatskapingskommissie sy verantwoordelikheid met wysheid en toegewydheid nagekom het:
Intussen het die aangewese hoofregter Mandisa Maya Zondo geloof vir sy ondersteuning van vroue op die regbank. President Cyril Ramaphosa het Zondo in 2022 as hoof van regsdienste aangestel. Maya, wat Suid-Afrika se eerste vroulike hoofregter is, sê Zondo se ondersteuning het grootliks bygedra tot die erkenning van vroue in die regering se regsafdeling:
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gegee om bewerings van erge wanadministrasie in die Oos-Kaapse OR Tambo-munisipaliteit te ondersoek. Dit hou verband met die bou van die Seinheuwel-reservoir en die aanstelling van die Amatola-waterraad in 2019. ʼn Forensiese verslag het in 2022 getoon die munisipaliteit het Amatola Water ʼn onverklaarde voorskot van 28-miljoen-rand betaal. Die eenheid sê die ondersoek sal ook fokus op enige onreëlmatige, onbehoorlike of onregmatige gedrag deur munisipale amptenare of instellings wat by die kontrakte betrokke was.
# Amerika se vise-president, Kamala Harris, het simbolies haar benoeming as presidentskandidaat aanvaar nadat afgevaardigdes op die Demokrate se nasionale konvensie in Chicago seremonieel gestem het. Sy het reeds vroeër die maand die party se amptelike benoeming geword nadat sy die meerderheid tydens ‘n virtuele mondelinge stem ontvang het. Harris en haar medekandidaat, die goewerneur van Minnesota, Tim Walz, hou tans ‘n veldtogsaamtrek in Milwaukee. Harris sê die presidensiële wedloop teen Donald Trump gaan oor twee uiters verskillende visies vir Amerika:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Ryan van Velzen, wat beskou word as ‘n toekomstige ster, maak sy debuut in Desember by die Nedbank-uitdaging by Sun City in Noordwes. Hy word beskryf as die gesig van ‘n nuwe geslag jong Suid-Afrikaners wat hulle merk wil maak by die beroemde toernooi. Die 22-jarige Van Velzen het gekwalifiseer toe hy verlede jaar die oorkoepelende merietetoekenning op die Sonskyntoer ingepalm het. Hy sluit aan by sy landgenote Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen by die toernooi met algehele prysgeld van 107-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-304-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-513-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….