Nuus 07:00
BULLETIN 21 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAMATU en Denosa onderskryf die tweede presidensiële gesondheidsverdrag
# Die Oekraïnse parlement verbied die Russies-Ortodokse Kerk
# En tennis: Jannik Sinner is skoon nadat hy twee keer positief getoets het vir ‘n verbode middel
# Die Vakbond van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en verpleegorganisasie Denosa, ondersteun die ondertekening van die tweede presidensiële gesondheidsooreenkoms om die gesondheidsorgstelsel te versterk. Hulle verteenwoordig meer as 90-duisend dokters en verpleegkundiges en onderskryf die tien pilare van die ooreenkoms, insluitend die verbetering van gesondheidsorg-infrastruktuur, toegang tot medikasie en gereedheid vir pandemies. Denosa-woordvoerder Sibongiseni Delihlazo sê die ooreenkoms bou voort op vorige gesondheidsberade en wil die Nasionale Gesondheidsversekering bevorder, met die uitbreiding van bekostigbare, hoёgehaltesorg vir almal:
Die Voorspraakprojek vir Landelike Gesondheid verwelkom intussen die ondertekening van die ooreenkoms deur president Cyril Ramaphosa en beskou dit as ‘n sleutelbeginsel om Suid-Afrika se gesondheidstelsel te versterk. Woordvoerder Palesa Chidi sê die ooreenkoms stem ooreen met hulle opdrag om te verseker daar is gelyke toegang tot gesondheidsorg, veral in landelike gebiede, en benadruk die samewerking tussen verskaffers van gesondheidsorg:
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het kommer uitgespreek ná ‘n brand gister by die Lancea Vale Secondary School in Eldoradopark. Drie klaskamers in die graad 8- en 9-blokke is beskadig. Dieselfde skool was verlede week in die nuus toe ʼn leerder op die skoolterrein met ʼn skerp voorwerp gesteek is. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die polisie ondersoek die voorval:
# Oekraïne se parlement het gestem dat die Oekraïns-Ortodokse Kerk wat Russiese bande het, verbied word. Die kerk word beskuldig dat hy vir Moskou kant kies. Kiëf probeer al jare lank geestelike bande met Rusland verbreek. Dit is versnel ná Moskou se inval in 2022, wat deur die kerk ondersteun is. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê die verbod sal sy land se geestelike onafhanklikheid bevorder. Die Russies-Ortodokse Kerk se woordvoerder, Vladimir Legoida, sê die stemmery is onregmatig en ʼn skending van die basiese beginsels van gewetensvryheid en menseregte.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is skoon verklaar nadat hy twee keer positief getoets het vir die verbode middel clostebol. Die Italianer het in Maart positief getoets by Indian Wells waar hy die halfeindronde gehaal het, en ʼn toets agt dae later was ook positief. Sinner is voorlopig geskors, maar het suksesvol geappelleer en is toegelaat om verder te speel. Hy sal steeds sy punte en prysgeld van Indian Wells verbeur. Die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap het bevind clostebol het onbedoeld in Sinner se gestel beland toe sy fisioterapeut hom masseer het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-162-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-516-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Lugvaart-geslagsgelykheidsberaad in KwaZulu-Natal wil die deelname van vroue in die globale lugvaartsektor bevorder. Dit is in ooreenstemming met die Geslagsgelykheidprogram van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie. Die geleentheid bring vroulike beroepslugvaartpersoneel en verteenwoordigers uit die bedryf byeen om geslagsgelykheid en diversiteit in lugvaart te bespreek. Adjunkminister van Vervoer, Mkhuleko Hlengwa, lewer die hoofrede by die beraad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….