Nuus 06:00
BULLETIN 21 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa gaan die Hooggeregshof-uitspraak oor munisipale tariewe hersien
# AfriForum eis ‘n ondersoek na die onwettige militêre kamp in Mpumalanga
# En krieket: Twee kolfblaaie in die T20-Wêreldbekertoernooi word as onbevredigend beskou
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika sê hy sal ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria bestudeer wat bepaal die goedkeuring van munisipale tariewe moet gebaseer word op studies oor die koste van voorsiening. Dit volg nadat die Hof die appèl van Nersa en die munisipale vereniging, SALGA, afgewys het. Die hofbeslissing verwag van die reguleerder om sy benadering oor die evaluering van munisipale tariewe aan te pas. Die woordvoerder van die reguleerder, Charles Hlebela, sê hulle sal die beslissing noukeurig bestudeer voor hulle oor enige verdere optrede besluit:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het gehoor die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane het nie voldoen aan die vereistes vir ‘n gratifikasiebetaling nie. Sy betwis die Openbare Beskermer se weiering om haar gratifikasie van tien-miljoen-rand te betaal nadat die Nasionale Vergadering haar skuldig bevind het aan wangedrag en onbevoegdheid. Advokaat Thembeka Ngcukaitobi van die kantoor van die Openbare Beskermer, het Mkhwebane se argument verwerp dat haar ontheffing nie verband hou met haar betaling nie. Regter Omphemetse Mooki het uitspraak voorbehou.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi stel homself voor as kampvegter van mense, maar hy volg in werklikheid ‘n roete wat tot die verdere swaarkry van inwoners lei. Die party het op die premier se staatsrede gereageer. In sy toespraak verlede week het Lesufi beloftes gemaak om ‘n reeks uitdagings te hanteer, insluitend werkloosheid, misdaad en swak infrastruktuur. Khathutshelo Rasilingwane van die DA sê die premier se toespraak het nie die praktiese stappe bevat om uitdagings die hoof te bied nie:
# AfriForum eis ‘n onafhanklike ondersoek na die Milites Dei-sekerheidsdienste se onwettige kamp in Mpumalanga, en beweer daar was korrupsie en onbevoegdheid by Binnelandse Sake. Die organisasie sê die ontdekking by die kamp van 95 Libiese burgers, wat na bewering verbind word met die militante groepbrigade 20/20, ontbloot ernstige onbevoegdheid en korrupsie binne die departement en in ander agentskappe. Jacques Broodryk van AfriForum vra verbeterde grensbeheer, ‘n oudit van immigrasieprosesse en aanspreeklikheid vir dié wat verantwoordelik is:
# Die Suider-Afrikaanse Sakekamer se Toerisme-alliansie het die versekering gegee a-pokke hou min risiko in vir reisigers in die streek. Die voorsitter Tshifhiwa Tshivengwa het benadruk tipiese reisigerbedrywighede is veilig en pro-aktiewe gesondheidsmaatreëls is reg oor die streek ingestel. Tshivengwa waarsku egter reisigers om goeie higiëne toe te pas en nie in noue kontak te kom met mense wat siek lyk of sigbare velletsels het nie. Tshivengwa het herbevestig SAOG-lande het streng protokolle ingestel om gesondheidskwessies te hanteer, en seker te maak toerisme bly veilig.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het twee kolfblaaie vir die T20-Wêreldbekertoernooi as onbevredigend gegradeer. Dit was die kolfblad vir die eerste twee wedstryde in New York, en vir die Brian Lara-akademie in Tarouba. Die Proteas was betrokke by die eerste kragmeting in New York toe hulle Sri Lanka vir net 77 uitgeboul het, en weer in die halfeindstryd in Tarouba, waar hulle Afganistan tot 56 beperk het. Die kolfblad vir die eindstryd in Bridgetown is baie goed bevind. Indië het Suid-Afrika met sewe lopies verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-107-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-514-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….