Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van die Witwatersrand se Blommesaal en Eksamentoetssentrum is op die kortlys in die Skeppende Hergebruik-kategorie van die Wêreld-argitektuurfees. Daar is vanjaar 71 lande verteenwoordig op die WAF, met China, Australië, die Verenigde Koninkryk, Indië, en Singapoer as die top-vyf lande op die kortlys. Wits sê die sentrum is deur Savage and Dodd-argitekte ontwerp en sluit ‘n energie-doeltreffende stelsel in wat ‘n moderne, funksionele ruimte verseker terwyl die geskiedkundige waarde behoue bly.
# Die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe gaan die FARM@UP-projek bekendstel wat die eerste van sy soort in Afrika is. Dis ‘n geïntegreerde, hoëtegnologie landbou-instelling van 570 hektaar vir volhoubaar-gefokusde navorsing, opleiding en vaardigheidsontwikkeling. Die universiteit sê dis ontwerp om die multidissiplinêre toekoms van landbounavorsing en ontwikkeling te ontsluit. Professor Barend Erasmus sê FARM@UP sal ʼn werkende plaas wees waar studente, vakkundiges en rolspelers in die bedryf prakties opgelei word.
# Die inwoners van Houtbaai in Kaapstad het die vestiging van ʼn nuwe voedsel-woud gevier. Vyf-en-twintig vrugtebome en 25 inheemse bome is geplant tydens die veldtog wat deur Food and Trees for Africa ondersteun word. Die projek wil voedselonsekerheid aanpak deur vars produkte aan die gemeenskap te voorsien. Dit wil ook samewerking en volhoubaarheid in die omgewing aanmoedig. Die veldtog probeer ‘n blywende invloed op plaaslike voedselbronne bewerkstellig deur hierdie groen ruimtes by die stedelike landskap te laat inskakel.
# Doktor Thobekani Lose van die Nelson Mandela Universiteit het ʼn ere-genootskap ontvang van die Sentrum vir Sake- en Ekonomiese Navorsing in Londen. Hy is hoof en navorser aan die Centre for Entrepreneurship Rapid Incubator. Lose is een van drie uit 31 aansoekers wat gekies is op grond van hul uitsonderlike bydrae in die veld van entrepreneurskap-onderrig en sake-navorsing. Die universiteit sê hy was die afgelope jare, regstreeks en onregstreeks, raadgewer vir meer as een-duisend-254 kleinsake-ondernemings in verskeie provinsies. Hy het ook meer as 100-miljoen-rand ingesamel deur belanghebbers se betrokkenheid en vennootskappe.
# En ten slotte: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het ‘n meesterwewer van KwaZulu-Natal, Beauty Ngxongo, vereer vir haar uitsonderlike isichumo mandjies. Sy gebruik slegs natuurlike materiale en plantgebaseerde kleurstowwe. Ngxongo het internasionale erkenning verwerf vir haar werk, insluitend geweefde mandjies, wat in 2020 in New York se Kunsmuseum uitgestal is. Die departement sê Ngxongo het die tradisionele kuns tot ‘n eietydse kunsvorm verhef en terselfdertyd ‘n ontwerp-baanbreker geword.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….