Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Sioniste-federasie sê Hamas se verwerping van ‘n skietstaking ontbloot sy ware terreuragenda
# Die Indië-Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel wil bilaterale handel bevorder
# En die Wêreld-krieketspelersvereniging gaan die sport se onvolhoubare struktuur hersien
# Die Suid-Afrikaanse Sionistefederasie veroordeel Hamas se verwerping van ‘n skietstaking en sê dit ontbloot die groep se ware aard as ‘n ondersteuner van terreur en geweld teen Jode wat glad nie in vrede belangstel nie. Hulle waarsku Hamas se eis dat die Israeliese Weermag uit die Philadelphi-korridor moet onttrek, sal toelaat dat die groep herbewapen en ‘n groter bedreiging vir Israel inhou. Woordvoerder Rolene Marks kritiseer ook die regering se voortgesette steun aan Hamas ondanks die groep se onophoudelike aanvalle op burgerlikes:
# Die Indië-Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel het ten doel om bilaterale handel van 338-miljard-rand tot 445-miljard-rand op te stoot. Die stigterslid, Atul Padalkar, benadruk Indië is Suid-Afrika se vierde grootste handelsvennoot wat jaarliks groot hoeveelhede goedere uitvoer. Die nuwe kamer is gemik op die bevordering van handel deur bewustheid te verhoog en versperrings uit die weg te ruim. Padalkar sê regstreekse vlugte en sterker handelsbande is noodsaaklik vir groei:
# Die minister van Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, ondersoek migrasie as ‘n ontwikkelings-dryfveer in haar hoofrede op die migrasiekonferensie in Sandton, Johannesburg. Die vierdaagse konferensie, in samewerking met die Internasionale Organisasie vir Migrasie en die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, bring afgevaardigdes van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap bymekaar. Die konferensie fokus ook op samewerking en oplossings vir die uitwerking van migrasie op kwesbare groepe.
# ‘n Emosionele Amerikaanse president, Joe Biden, het tydens ‘n afskeidstoespraak op die Demokratiese Party se konvensie in Chicago die fakkel oorhandig aan die presidentskandidaat, Kamala Harris, en gesê hy het alles vir sy land gegee. Hy en Harris het omhels en die skare het hom geesdriftig verwelkom na sy besluit van minder as ‘n maand gelede om aan die wedloop om die Withuis te onttrek. Harris het in ‘n merkwaardige ommeswaai nuwe lewe in die party geblaas en Donald Trump se voorsprong in meningspeilings uitgewis.
# Krieket: Die Wêreld-krieketspelersvereniging het begin om die sport se globale struktuur te hersien. ‘n Komitee met ses lede onder leiding van die voormalige hoof van die Australiese Krieketspelersvereniging, Paul Marsh, sal die hersiening doen. Die vereniging sê die komitee sal aandag gee aan drie basiese kwessies wat die spel wêreldwyd raak. Dit is die skeduleringsmodel, die toenemende verskil tussen lande oor hoe die spel befonds word, en ʼn ondersoek na spelers se indiensneming en kontrakte. Die vereniging sê die huidige struktuur en program is gebroke en onvolhoubaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-822-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-522-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….