Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Hoofregter Zondo word geloof dat hy alles moontlik gedoen het om die diepte van korrupsie te ontbloot
# Israel bring die liggame van ses gyselaars terug uit Gaza
# En, fietsry: ‘n Olimpiese medaljewenner verander sy nasionaliteit van Australies na Brits
# Die Activists and Citizens Forum sê hoofregter Raymond Zondo het alles in sy vermoë gedoen om die diepte van korrupsie en staatskaping in die land bloot te lê deur ‘n omvattende verslag met bevindings en duidelike aanbevelings te lewer. Woordvoerder, Dennis Bloem, sê Zondo is in die gesig gevat en sy lewe bedreig deur die diewe wat besig was om die land te vernietig. Hy sê die forum wens Zondo ‘n rustige aftrede toe:
# Die polisie het die laaste sewe dae bykans 14-duisend verdagtes aangekeer gedurende landwye Shanela-operasies. Dit sluit in twee-duisend-800 mense wat gesoek is vir ernstige misdaad, insluitend moord, verkragting en die onwettige besit van vuurwapens. Die polisie het ook beslag gelê op 112 vuurwapens, een-duisend-491 rondes ammunisie en 85 gesteelde voertuie. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê groot suksesse sluit in die onderskepping van dwelms van 300-miljoen-rand en beslaglegging op vervalste goedere van 37-miljoen-rand:
# Die Israelse Weermag sê hy het die liggame van ses gyselaars teruggebring uit die Khan Yunis-gebied in die suide van Gaza tydens ‘n gesamentlike operasie met die interne sekerheidsagentskap Shin Bet. Die families van die gyselaars is na intelligensie- en forensiese ontleding in kennis gestel. Bemiddelaars van Egipte, Katar en Amerika versoek Israel en Hamas om tot ‘n skietstakings-ooreenkoms in te stem wat sal help om die vrylating van die oorblywende gyselaars te bewerkstellig in ruil vir Palestynse gevangenes in Israelse tronke.
# Fietsry: Die baanfietsryer Matt Richardson het bekendgemaak hy verander sy nasionaliteit van Australies na Brits na sy drie medaljes vir Australië op die Olimpiese Spele in Parys. Hy is in Kent, Engeland, gebore en het op die ouderdom van nege na Australië verhuis, maar dubbele burgerskap behou. Die 25-jarige is ook ‘n tweemalige Statebondskampioen en sê hy het na sorgvuldige oorweging van sy loopbaan en toekoms ‘n persoonlike keuse uitgeoefen sodat hy nuwe hoogtes kan bereik. Richardson het twee silwer en ‘n brons in Parys gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-924-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-523-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die Somkhanda-wildreservaat in die noorde van KwaZulu-Natal het ‘n renoster-onthoringsveldtog van stapel gestuur om die toenemende stropingskrisis die hoof te bied. Die reservaat in gemeenskapsbesit en die tuiste van die Groot Vyf, was in 2007 die eerste om swartrenosters deur die Wêreldfonds vir die Natuur se projek vir die bevordering van swartrenosters te verwelkom. Die jongste onthoringsveldtog is ‘n groot stap vorentoe, nie slegs vir die reservaat nie, maar ook vir renosterbewaring in die provinsie, waar 325 renosters verlede jaar gestroop is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….