Nuus 11:00
BULLETIN 20 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede verwelkom die verwerping van die Presidensiële Gesondheidsooreenkoms
# Zolani Matthews aanvaar uiteindelik sy afdanking by Prasa
# En rugby: Die Springbokke begin Donderdag voorberei vir hul toetse teen die All Blacks
# Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede sê die huidige weerstand teen die Presidensiële Gesondheidsooreenkoms kon vermy word as aandag gegee is aan die vele probleme in die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Business Unity South Africa en die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het reeds aangedui hulle gaan nie die ooreenkoms onderteken nie omdat dit die NGV-wet ondersteun terwyl hulle daarteen gekant is. Makone Maja van die instituut sê die instelling van die NGV plaas talle burgers se huidige gesondheidsorg in gedrang:
# Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Zolani Matthews, het uiteindelik sy afdanking en skikking by die spoorwegoperateur aanvaar. Dit volg nadat Prasa drie keer probeer het om hom af te dank. Dit het die staatsonderneming ‘n geraamde 30-miljoen-rand aan regskoste en die vergoeding van twee uitvoerende hoofde gekos. Prasa se woordvoerder, Andiswa Makanda, het aan News24 gesê Matthews het die beëindiging van sy kontrak aanvaar en sal hom vir die res van sy kontrak van 19 maande uitbetaal.
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, sê hy gaan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika vra om Eskom se aansoek vir ‘n tariefverhoging van 40-persent te verwerp. Die kragvoorsiener het gevra vir ‘n verhoging van 36-persent volgende jaar, bykomend tot die vier-persent heffing wat hy van verbruikers wil hê deur sy Reguleringsklaringsrekening. Brink sê krag word onbekostigbaar vir die meeste mense en onredelike kragtariefverhogings sal ‘n finansiële las op inwoners plaas:
# Die Amerikaanse president, Joe Biden het adjunk-president Kamala Harris beskryf as ‘n persoon met integriteit en sê as sy verkies word, sal sy Amerika eerste stel. Hy het na sy sukses tydens sy ampstermyn verwys en sy steun vir ‘n skietstaking in Gaza herhaal. Biden het sy steun aan Harris toegesê in ‘n toespraak met die opening van die Demokratiese Party se nasionale konvensie in Chicago. Hy sê Harris sal ‘n president wees na wie kinders kan opsien en wêreldleiers respekteer:
# Rugby: Die Springbokke is terug op eie bodem na hulle triomfantelike besoek aan Australië en kom Donderdag in Johannesburg byeen om te begin voorberei vir die twee Rugbykampioenskaps-kragmetings met die All Blacks. Die twee aartsvyande pak mekaar die 31ste op Ellispark en ‘n week later in Kaapstad. Suid-Afrika is tans boaan die punteleer met tien punte na hulle twee bonuspunt-oorwinnings oor die Wallabies, wat nog nie punte het nie. Nieu-Seeland is tweede met vyf punte, en Argentinië derde met vier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-896-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-504-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….