Nuus 09:00
BULLETIN 20 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu veroordeel Mkhwebane se pogings om ‘n uitbetaling te kry
# Imatu is optimisties oor ‘n salarisvoorstel vir munisipale werkers
# En Hilary Clinton beskou Kamala Harris as ‘n kampioen vir die middelklas
# Cosatu sê hy is stomgeslaan oor die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane se hofaansoek om haar voormalige werkgewer te dwing om ‘n gratifikasie van tien-miljoen-rand te betaal, al is sy uit haar amp onthef. Mkhwebane het ‘n brief van haar opvolger, Kholeka Gcaleka, ontvang wat haar van die besluit verwittig dat haar gratifikasie in beginsel nie uitbetaal kan word nie want sy het nie haar pos uit eie wil verlaat nie. Woordvoerder Zenele Sabela sê hulle veroordeel Mkhwebane se poging om die staat se arm te draai om haar geld te betaal waarop sy nie geregtig is nie:
# Die munisipale vakbond, Imatu sê hy is versigtig optimisties dat lede die nuwe salarisaanbod sal aanvaar wat die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging voorgelê het. Die vakbonde het ‘n gesamentlike lys van hersiene eise ingedien vir ‘n algemene verhoging van agt-persent in die eerste jaar. Salga se nuwe voorstel is ‘n vyfjaar-loonooreenkoms met verhogings van ses-persent in die eerste jaar vir munisipale werkers. Imatu se hoofsekretaris, Johan Koen, sê al sy streke moet teen volgende week Woensdag ‘n mandaat gee om die aanbod te aanvaar of nie.
# Die Stad Kaapstad sê daar is positiewe vordering in sy verhouding met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, maar die strafregstelsel as geheel moet dringend aandag kry. Die stad se wetstoepassers het die afgelope week 301 mense gearresteer en 63-duisend-661 verkeers- en verordening-oortredings aangeteken. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê een verdagte is in die middel van Julie op dieselfde plek vir dieselfde oortreding vasgetrek:
# Amerika se gewese minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, sê visepresident Kamala Harris is die regte persoon om die land vorentoe te lei omdat sy die middelklas se kampvegter is. Clinton het in 2016 teen Donald Trump verloor en was die eerste vroulike presidentsbenoeming van ‘n groot party. Sy het by die Demokrate se Nasionale Konvensie in Chicago gepraat en sê mense sal Harris binnekort aan die anderkant van die glasplafon sien wanneer sy Amerika se volgende president word:
# Krieket: Engeland het Matthew Potts en Dan Lawrence teruggeroep vir die eerste toets teen Sri Lanka wat môre op Old Trafford begin. Die aanvangskolwer Zak Crawley en kaptein Ben Stokes se beserings het Engeland gedwing om veranderinge aan te bring aan die span wat in Julie se wedstrydreeks die Wes-Indiese Eilande met drie-nul gewen het. Dit sal naatbouler Potts se eerste toets in meer as ʼn jaar wees. Ollie Pope sal die span in Stokes se plek aanvoer terwyl Harry Brook in die reeks van drie wedstryde as onderkaptein sal waarneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-805-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-501-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….