Nuus 08:00
BULLETIN 20 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê diegene wat die EFF wil verlaat, moet dit nou doen
# ‘n Britse tegnologie-magnaat word vermis nadat ‘n luukse seiljag sink
# En tennis: Jannik Sinner en Aryna Sabalenka is die Cincinnati Ope-kampioene
# Die EFF-leier Julius Malema het teruggekap ná Floyd Shivambu se besluit om die party te verlaat en sê hy gaan niemand smeek om te bly nie. Hy het gisteraand die party se Gautengse Provinsiale Grondmagte-forum in Soweto toegespreek. Dit was sy eerste toespraak sedert Shivambu se skokaankondiging verlede week dat hy by oudpresident Jacob Zuma se MK-party gaan aansluit. Malema sê dié wat die EFF wil verlaat, moet dit nou doen:
Malema het intussen aangekondig dat sekretaris-generaal Marshall Dlamini die gewese adjunkpresident, Floyd Shivambu, as die party se hoofsweep in die Parlement sal vervang. Malema sê die party se regeringstaak-eenheid wat voorheen onder Shivambu geval het, word nou ontbind:
# Die Black Business Council of South Africa sê die wisselende wit uitvoerende hoofde by Absa wek kommer. Absa soek na ‘n sewende uitvoerende hoof in minder as sewe jaar nadat Arrie Rautenbach besluit het om vroeg af te tree. Hy bly tot 15 Oktober in sy pos waarna daar ʼn kontraktuele kennistydperk van ses maande volg waar hy moet tuis bly. Charles Russon sal as tussentydse uitvoerende hoof optree. Die raad sê hy is teleurgesteld dat die bank nie ʼn swart tussentydse hoof aangestel het om hervorming te ondersteun nie.
# ʼn Reddingsoperasie is aan die gang om ses mense te vind wat vermis word nadat ʼn luukse seiljag aan die kus van die Italiaanse eiland, Sisilië, gesink het. Die Britse tegnologie-magnaat, Mike Lynch, en sy 18-jarige dogter is onder dié wat vermis word. Die Bayesian het 22 mense aan boord gehad en was teen die kus naby die Porticello-hawe geanker toe ʼn tornado dit Maandag in die vroeë oggendure getref het. Een man, vermoedelik die vaartuig se sjef, is dood verklaar terwyl 15 mense gered is. Dit sluit Lynch se vrou en ʼn eenjarige babadogtertjie in.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het Frances Tiafoe verslaan en die Cincinnati Ope die eerste keer gewen. Die Italianer het die Amerikaner met 7-6, 6-2 afgeransel om sy vyfde titel dié seisoen te buit. In die vroueafdeling het Aryna Sabalenka van Belarus haar tweede titel van die jaar en eerste sedert die Australiese Ope opgeraap nadat sy Jessica Pegula van Amerika met 6-3, 7-5 geklop het. Sinner sê dit gee hom selfvertroue in aanloop tot die Amerikaanse Ope:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-578-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-501-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….