Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die EFF-leier, Julius Malema het die verantwoordelikhede wat deur Floyd Shivambu gehou is, na sy kantoor oorgedra. Die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, sal die party se nuwe hoofsweep in die Parlement wees terwyl Malema se kantoor vir die party se bestuurstaakeenheid verantwoordelik sal wees.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die Hooggeregshof in Pretoria het die Nasionale Energiereguleerder se verlof tot appèl geweier wat meebring dat Nersa nie tariefverhogings sonder koste-ontledings van munisipaliteite kan deurvoer nie. Dit beteken dat 112 munisipaliteite tans onwettig verhoogde tariewe hef.
En tweedens skryf die koerant die olifant, Charley van die Pretoria Nasionale Dieretuin is uiteindelik op pad om in Limpopo te gaan aftree.
# The Star en Pretoria News:
Skryf oudpresident Jacob Zuma is nie meer ‘n lid van die ANC nie.
En berig Malema het die lede van die EFF die leviete voorgelees oor hul lidmaatskap en lojaliteit aan die party.
# Sowetan:
Berig die omstrede pastoor Paseka Motsoeneng ook bekend as Mboro is borgtog geweier en die staat gaan sterk standpunt inneem oor sy beweerde gebruik van wapens by ‘n skool.
# En The Citizen:
Skryf tien LP’s wat deur die MK-party afgedank is, wil hul nou na die hof wend om te verhoed dat lede in hul plek beëdig word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig meer as ‘n 100 plaasdiere en talle wilde diere het doodgebrand in ‘n verwoestende veldbrand in die Maria Moroka-natuurreservaat buite Thaba Nchu.
En tweedens skryf die koerant die ouers van plattelandse skole is bekommerd oor die veiligheid van hulle kinders op die rugbyveld waar hulle die kans staan om ernstige beserings op te doen weens gevaarlike spel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Nersa.
En tweedens word berig die 17-jarige verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op die 16-jarige Deveney Nel van Caledon het glo saam help soek na Deveney toe sy vermis geraak het.
# En Cape Times:
Skryf ook oor Malema wat vir die EFF-lede wat die party wil verlaat gesê het hulle moet dit nou doen.
En berig ook oor Nersa se nederlaag in die hof.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC het sy oog op die burgemeesterstoel in Nelson Mandelabaai en wil met die DA saamwerk om ‘n nuwe regering in die stad te vorm.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n kliniek in KwaNobuhle wat letterlik stuk vir stuk gesteel is nadat dit ontruim moes word weens hoë misdaad.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die EFF verloor steeds lede nadat Floyd Shivambu na die MK-party oorgeloop het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig kinderverwaarlosing is besig om ‘n groot probleem te word in Namibië. Dit volg te midde van berigte van kinders wat in emmers verdrink en huise wat per ongeluk afbrand.
En tweedens skryf die koerant NamWater het aangekondig dat hy vier projekte ter waarde van meer as een-miljard-rand gaan aanpak.