Nuus 07:00
BULLETIN 20 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil sterker teenkorrupsiemaatreëls hê
# Bantu Holomisa sê soldate is nie die antwoord teen beskermingsfooisindikate nie
# En die Weerdiens reik waarskuwings uit vir die Noord- en Wes-Kaap
# Die DA beplan om ‘n Privaat Lede-wetsontwerp in te dien en kritiseer die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Vervolgingsgesag as ontoereikend om korrupsie aan te spreek. Hulle voer aan die wet maak voorsiening om die Ondersoekdirektoraat permanent te maak maar spreek nie kwessies aan soos ontoereikende befondsing en politieke beheer van die NVG nie. DA-woordvoerder Glynnis Breytenbach sê die voorgestelde wetsontwerp is veronderstel om ‘n onafhanklike teenkorrupsie-kommissie te vestig met ‘n vaste termyn en direkte befondsing deur die Nasionale Tesourie:
# Die gewese Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se regspan sê sy is wettig geregtig op die gratifikasie-betaling van 10-miljoen-rand. Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, voer aan Mkhwebane is nie geregtig daarop nie omdat sy in ‘n staat van beskuldiging is. Sy is ná ʼn Artikel 194- parlementêre ondersoek weens wangedrag en onbevoegdheid uit haar amp verwyder. Mkhwebane se advokaat, Dali Mpofu, het aan die Hooggeregshof in Pretoria gesê die Openbare Beskermer se Kantoor is verkeerd dat die gratifikasie diskresionêr is:
# Die adjunkminister van Verdediging, Bantu Holomisa, glo nie die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se ingryping is die antwoord op die beskermingsfooi-sindikaat in die Oos-Kaap nie. Die sakegemeenskap in Mthatha loop toenemend deur onder sekerheidsdreigemente omdat sindikate beskermingsgeld van sakeondernemings eis, veral dié van buitelandse burgers. Dit het veroorsaak dat sommige ondernemings gesluit het. Holomisa sê die polisie en misdaadintelligensie moet intree en sakeondernemings in die provinsie beskerm.
# Die Verenigde nasies waarsku oor ‘n groeiende krisis met wanvoeding in die Midde-Ooste en Noord-Afrika wat ‘n derde van die kinders raak. Volgens Unicef ly minstens 77-miljoen, of een uit elke drie kinders in die Midde-Ooste en Noord-Afrika aan wanvoeding. Altesaam 55-mijoen kinders in die 20 lande wat geëvalueer is, is oorgewig of het vetsug, wat Unicef as ‘n vorm van wanvoeding beskou. ‘n Verdere 24-miljoen kinders is ondervoed, insluitend verdwerging, is uitgeteer en baie maer.
# Rugby: SA-onder-18-afrigter James Winstanley het tien verskuiwings aangebring aan die span wat Ierland geklop het, vir vandag se Internasionale Reekskragmeting teen Engeland by die Hoër Jongenskool Paarl. Winstanley sê die veranderings is met opset gemaak sodat almal in die groep ‘n kans kry. Net twee agterspelers is behou – Akha Boqwana as heelagter en Khutadzo Rashivhaga op regtervleuel. Voor kry kaptein Sethu Mnebelele ‘n tweede beginkans, terwyl Riley Norton ook weer opdraf as slot, en Reuben Kruger as nommer agt.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-492-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-502-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-43-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die Weerdiens het ‘n vlak 1-waarskuwing uitgereik teen skadelike wind vandag in die suidelike Namakwa-streek van die Noord-Kaap, en die Sentrale Karoo in die Wes-Kaap. ‘n Kuswind tussen Kaap Columbine en Plettenbergbaai word môre verwag. Voorspellers sê die naderende koue front wat die Wes-Kaap uit die suidweste nader kan byna stormsterkte wind meebring, met rukwinde van 70- tot 90-kilometer per uur. Dit kan skade in nedersettings aanrig en kleiner vaartuie laat omslaan. Die diens waarsku motoriste om versigtig te bestuur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….