Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum verwelkom die hofbevel teen NERSA se munisipale kragtarief-verhogings
# Die ANC stel monitering bekend teen onwettige grondbesetting in Gauteng
# En, rugby: Die Springbokke fokus nou op die All Blacks nadat hulle die Wallabies in Australië verpletter het
# AfriForum verwelkom die Hooggeregshof in Gauteng se besluit om die energie-reguleerder NERSA se appèl vir munisipale elektrisiteitstariefverhogings, af te wys. Die hof beskou die beplande verhogings as onregmatig, en het NERSA se aansoek verwerp. Morné Mostert van AfriForum beklemtoon munisipaliteite moet koste-van-verskaffingstudies voorlê om die tariefverhogings te regverdig. Hy sê die hof het beveel ongoedgekeurde tariewe moet omgekeer word hangende die voorleggingshersienings:
# Die ANC in Gauteng het ‘n nuwe grondbesettings-moniteringstelsel bekendgestel wat daarop gemik is om onwettige besettings te verhoed. Die plan wil grondbesettings pak deur ‘n gestruktureerde metode aan te bied om vinnig op te tree teen besettings. Die ANC se provinsiale sekretaris, Thembinkosi Nciza, het na die afhandeling van die provinsiale uitvoerende komitee se lekgotla aan die media gesê die metode herbevestig die party se toewyding aan die behoud van orde en die beskerming van eiendomsregte:
# ‘n Man is dood en ses passasiers word vermis nadat ‘n luukse Britse seiljag, die Bayesian, in slegte weer aan die kus van Sicilië gesink het. Daar was 22 mense aan boord. Die kaptein van ‘n nabygeleë skip het 15 oorlewendes opgepik, insluitend ‘n baba in ‘n reddingsbootjie, en het die kuswag verwittig. Die seiljag van 56 meter was ongeveer 700 meter vanaf Porticello se hawe toe dit gesink het. Onder diegene wat vermis word, is burgers van die Verenigde Koninkryk, Amerika en Kanada. Duikers en helikopter-bemannings neem deel aan die soektog.
# Rugby: Die Springbokke spits nou al hulle aandag toe op die All Blacks nadat hulle die Wallabies in Australië uit die pad gevee het. Die eerste van twee Rugbykampioenskapstoetse tussen die twee aartsvyande word die 31ste op Ellispark in Johannesburg gespeel. Andrew Brace van Ierland is die skeidsregter, met verskillende skeidsregters vir al die Bokke se kragmetings in die kompetisie. Matt Carley van Engeland sal die fluitjie hanteer in die tweede toets in Kaapstad op 7 September.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-310-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-495-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Verslag deur SweepSouth toon talle Suid-Afrikaanse huiswerkers verdien minder as die nasionale minimumloon, ondanks ‘n loonverhoging van 14-persent. Die opname onder vyf-duisend-600 werkers toon ‘n gemiddelde maandelikse verdienste van drie-duisend-349-rand vir vroue en drie-duisend-en-59-rand vir mans, albei minder as die veronderstelde vier-duisend-400-rand volgens die minimumloon. SweepSouth se uitvoerende hoof, Lourandi Kriel, verduidelik die maandelikse tekort laat ernstige vrae ontstaan oor bekostigbaarheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….