Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se verbod op Brasiliaanse pluimvee raak die plaaslike pluimveebedryf
# ‘n Navigasiewaarskuwing is uitgereik vir vaartuie aan Suid-Afrika se Ooskus nadat 99 skeepshouers in die see beland het
# En, rugby: Die Springbokke is steeds boaan die wêreldranglys na die oorwinning oor die Wallabies
# Hume International berig Suid-Afrika se verbod op die invoer van pluimvee uit die Brasiliaanse staat Rio Grande do Sul het ‘n ernstige uitwerking op die plaaslike pluimveebedryf. Dit geld vanaf dié maand en beperk die invoer van pluimvee wat na 17 Junie verwerk is. Hume International sê die omvattende verbod oortree internasionale handelsverdrae en kan tot hoёr voedselpryse lei. Woordvoerder Roy Thomas het aan SABC News gesê Suid-Afrika is ‘n groot invoerder van Brasiliaanse pluimvee en kan moontlike ekonomiese druk ondervind in die verwerkte vleisbedryf:
# Die ANC in Gauteng verwelkom ‘n belegging van 14-miljard-rand in die gasvryheidsektor, wat die plaaslike ekonomie ‘n hupstoot behoort te gee. Sleutel-bydraers sluit in die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika met ses-miljard-rand, Vodacom met drie-miljard, en Citibank met 1,4-miljard. Die party se provinsiale sekretaris, Thembinkosi Nciza, het die media ingelig oor die uitkoms van die provinsiale uitvoerende komitee se lekgotla. Hy beskou die aansienlike befondsing as ‘n deurslaggewende mylpaal in ekonomiese ontwikkeling en werkskepping, wat die provinsie se toewyding aan ekonomiese groei en herlewing herbevestig:
# ‘n Navigasiewaarskuwing is uitgereik vir vaartuie aan Suid-Afrika se Ooskus nadat 99 skeepshouers afgeval het van die skip CMA CGM Belen wat onder die vlag van Malta vaar. Dit is die tweede voorval binne ‘n maand waarby dieselfde maatskappy, in Frankryk gebaseer, betrokke is. Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsorganisasie moedig plaaslike skeepskapteins aan om oplettend te bly en houers wat opgemerk word aan te meld. Beide voorvalle word verbind met gure weer. Die skip is na die hawe van Ngqura herlei.
# Rugby: Die Springbokke het Ierland se aanslag afgeweer vir die boonste plek op die wêreldranglys toe hulle die Wallabies die tweede agtereenvolgende naweek geklop het. Gelykop of ‘n nederlaag sou Ierland in die eerste plek laat inskuif het, hoewel hulle nog nie gespeel het sedert verlede maand se gelykop-reeks teen die wêreldkampioen nie. Die All Blacks is steeds derde nadat hulle Argentinië verslaan het, wat steeds sesde is. Frankryk is vierde en Engeland vyfde. Skotland, Italië, Australië en Fidji is die res van die top tien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-710-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-490-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Verslag deur SweepSouth toon talle Suid-Afrikaanse huiswerkers verdien minder as die nasionale minimumloon, ondanks ‘n loonverhoging van 14-persent. Die opname onder vyf-duisend-600 werkers toon ‘n gemiddelde maandelikse verdienste van drie-duisend-349-rand vir vroue en drie-duisend-en-59-rand vir mans, albei minder as die veronderstelde vier-duisend-400-rand volgens die minimumloon. SweepSouth se uitvoerende hoof, Lourandi Kriel, verduidelik die maandelikse tekort laat ernstige vrae ontstaan oor bekostigbaarheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….