Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Navigasiewaarskuwing is uitgereik nadat 99 skeepshouers aan die Ooskus van ‘n vaartuig afval
# Die DA in Limpopo verwerp die afskryf van 34-miljoen-rand se onregmatige uitgawes
# En krieket: Die Windies gee sleutelspelers ‘n ruskans vir die T20-reeks teen die Proteas
# ‘n Navigasiewaarskuwing is uitgereik vir vaartuie aan Suid-Afrika se Ooskus nadat 99 skeepshouers afgeval het van die skip CMA CGM Belen wat onder die vlag van Malta vaar. Dit is die tweede voorval binne ‘n maand waarby dieselfde maatskappy, gebaseer in Frankryk, betrokke is. Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsorganisasie moedig plaaslike skeepskapteins aan om oplettend te bly en houers wat opgemerk word aan te meld. Beide voorvalle word verbind met gure weer. Die skip is na die hawe van Ngqura herlei.
# Die DA in Limpopo verwerp die afskryf van 34-miljoen-rand se ongoedgekeurde, onregmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes in die Polokwane-munisipaliteit. Dit sluit sewe-miljoen-rand in deur die nou ontbinde Aganang-munisipaliteit, sonder voldoende bewyse. Die party is bekommerd oor ‘n gebrek aan deursigtigheid en gevolgebestuur. Jacques Joubert van die DA vra strenger afdwinging en wag op bykomende onafhanklike ondersoekverslae binne die munisipaliteit:
# Die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Bedryfsvereniging loof president Cyril Ramaphosa se onlangse ondertekening van die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering. Woordvoerder Frank Spencer sê die wet stel aansienlike hervorming in vir Suid-Afrika se elektrisiteitsektor, wat insluit die skepping van ‘n mededingende mark en die ontbondeling van Eskom. Hy beklemtoon die wetgewing maak deure oop vir onafhanklike kragverskaffers en verskaf ‘n raamwerk vir elektrisiteitsverspreiding, wat belegging versnel en die land nader laat beweeg aan energiesekerheid.
# Die Organisasie vir die Ontwikkeling van Landelike en Plaaswerkers vra strenger maatreëls in geslagsgeweldsake na die inhegtenisneming van ‘n 17-jarige seun in verband met die moord op ‘n skoolmeisie van Caledon, Deveney Nel. Die 16-jarige is doodgesteek en haar liggaam in ‘n pakkamer by die Hoërskool Overberg versteek. Die tiener, volgens berigte ‘n leerder aan dieselfde skool, is in ‘n plek van veiligheid geplaas na sy verskyning in die plaaslike Landdroshof. Die organisasie se uitvoerende direkteur, Billy Claasen, vra strenger maatreëls teen geslagsgeweld-oortreders:
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande gee drie sleutelspelers – Andre Russel, Jason Holder en Alzarri Joseph – ruskans vir die reeks van drie T20-wedstryde teen Suid-Afrika. Die aanvangskolwer Brandon King sal ook die reeks misloop, want hy herstel nog van ‘n sy-besering. Matthew Forde en die veelsydige Fabian Allen, wat die T20-Wêreldbekertoernooi misgeloop het, keer terug. Die hoofafrigter, Daren Sammy, sê hy het volle vertroue in die span wat gekies is. Die eerste T20-kragmeting vind Vrydag in Tarouba in Trinidad en Tobago plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-387-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-493-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….