Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Organisasie vra strenger optrede in geslagsgeweldsake nadat ‘n tiener aangekeer word oor die moord in Caledon
# EFF-lede word versoek om party-oorskakelings te openbaar na Shivambu se bedanking
# En, krieket: Die Proteas verbeter hulle kanse vir die eindronde van die toetskampioenskap deur die Windies te klop
# Die Organisasie vir die Ontwikkeling van Landelike en Plaaswerkers vra strenger maatreëls in geslagsgeweldsake na die inhegtenisneming van ‘n 17-jarige seun in verband met die moord op ‘n skoolmeisie van Caledon, Deveney Nel. Die 16-jarige is doodgesteek en haar liggaam in ‘n pakkamer by die Hoërskool Overberg versteek. Die tiener, volgens berigte ‘n leerder aan dieselfde skool, is in ‘n plek van veiligheid geplaas na sy verskyning in die plaaslike Landdroshof. Die organisasie se uitvoerende direkteur, Billy Claasen, vra strenger maatreëls teen geslagsgeweld-oortreders:
# Die voormalige sekretaris-generaal van die EFF, Godrich Gardee, versoek lede wat dit oorweeg om die party te verlaat, om dit openbaar te maak indien hulle deur ‘n ander party gewerf word. Dit volg na die bedanking van die voormalige adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, wat by die MK-party aangesluit het. Volgens Gardee is stilswye aandadigheid, en benadruk dit is ‘n kritieke oomblik vir die EFF. Hy waarsku die party word getoets of dit verder as sy mylpaal van tien-jaar gaan vorder.
# Die algemene werkersvakbond Giwusa kritiseer die onlangse leefbare loonverslag omdat dit nie breër kwessies van uitbuiting en ingewortelde ongelykhede hanteer nie. Die vakbond meen terwyl die verslag deur die Living Wage Network ‘n maandelikse loon van 15-duisend-rand voorstel, skiet dit tekort wat dieper ekonomiese ongeregtighede betref. Giwusa se president, Mametlwe Sebei sê die huidige minimumloon van omstreeks vier-duisend-600-rand is onvoldoende, en vang baie werkers vas in armoede:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, versoek Israel en Hamas om nie die onderhandelings vir ‘n skietstilstand in Gaza en die vrylating van gyselaars te laat ontspoor nie. Volgens Blinken is dit ‘n deurslaggewende oomblik − moontlik die beste, miskien die laaste – geleentheid om die gyselaars huis toe te bring en aan almal ‘n beter geleentheid te gee vir blywende vrede. Blinken vergader later vandag met die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, voor hy na Kaïro reis, waar skietstilstandonderhandelings dié week hervat.
# Krieket: Die Proteas het hulle kanse in die Wêreld-toetskampioenskap verbeter deur die reeks teen die Windies te wen. Suid-Afrika het die gashere met 40 lopies gewen in die tweede toets in Guyana nadat reën die laaste sê gehad het in die eerste toets. Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê die vooruitsig om volgende jaar die eindstryd te haal, het beslis ‘n rol gespeel, maar hulle besef harde werk lê nog voor. Suid-Afrika is tans vyfde op die kampioenskaps-punteleer na Indië, Australië, Nieu-Seeland en Sri Lanka.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-131-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-491-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….