Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# EFF-lede versoek om party-oorskakelings te openbaar na Shivambu se bedanking
# Die beskuldigde in die moord op Deveney Nel van die Hoërskool Overberg moet weer in September in die hof verskyn
# En, krieket: Die Proteas verbeter hulle kanse vir die eindronde van die Toetskampioenskap deur die Windies te klop
# Die voormalige sekretaris-generaal van die EFF, Godrich Gardee, versoek lede wat dit oorweeg om die party te verlaat, om dit openbaar te maak indien hulle deur ‘n ander party gewerf word. Dit volg na die bedanking van die voormalige adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, wat by die MK-party aangesluit het. Volgens Gardee is stilswye aandadigheid, en benadruk dit is ‘n kritieke oomblik vir die EFF. Hy waarsku die party word getoets of dit verder as sy mylpaal van tien-jaar gaan vorder.
# Die saak teen die 17-jarige seun wat aangekla word van die moord op die leerder van Hoërskool Overberg, Deveney Nel, is tot 18 September uitgestel. Die tiener het vanoggend in die Landdroshof in Caledon verskyn nadat hy Vrydagaand in hegtenis geneem is. Deveney se liggaam is vroeër die maand aangetref in ‘n pakkamer by die skool. Dit het woede in die gemeenskap uitgelok. Die mense van die Overberg-distrik verwelkom die vinnige inhegtenisneming en vra nou verbeterde veiligheidsmaatreëls in skole om nog sulke tragedies te voorkom.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, benadruk die kritieke rol van die Kaapstadse hawe in die provinsie se ambisieuse planne vir ekonomiese groei. Hy het tydens ‘n vergadering met Transnet se bestuur van die hawe gewys op die hawe as ‘n sleutelpunt vir uitvoere om die doelwitte van die provinsie te behaal, om uitvoere te verdriedubbel en werk te skep:
# Krieket: Die Proteas het hulle kanse in die Wêreld-toetskampioenskap verbeter deur die reeks teen die Windies te wen. Suid-Afrika het die gashere met 40 lopies gewen in die tweede toets in Guyana nadat reën die laaste sê gehad het in die eerste toets. Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê die vooruitsig om volgende jaar die eindstryd te haal, het beslis ‘n rol gespeel, maar hulle besef harde werk lê nog voor. Suid-Afrika is tans vyfde op die kampioenskaps-punteleer na Indië, Australië, Nieu-Seeland en Sri Lanka.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-62-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-496-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-75-sent per vat.
# En ten slotte: SweepSouthAfrica sê inflasie en die breër lewenskostekrisis eis ‘n geweldige finansiële en geestelike tol op Suid-Afrika se huiswerkers. Bevindinge van ‘n opname deur die aanlyn huisdiensplatform, toon 83-persent van huiswerkers is die enigste broodwinners in hulle gesinne. SweepSouth se uitvoerende hoof, Lourandi Kriel, sê finansiële onbestendigheid kom oral voor, met 75-persent van die deelnemers wat nie maandeliks geld kan spaar nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….