Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Gauteng sê die Gesondheidsdepartement het 19-duisend fakture nie betaal nie
# Kleinfontein verdedig sy wettigheid nadat die hof Tshwane beveel om verordeninge af te dwing
# En, tennis: Sinner en Tiafoe, en Sabalenka en Pegula spook sake uit in die Cincinnati Ope se eindstryde
# Die DA in Gauteng sê die provinsiale Gesondheidsdepartement het versuim om 19-duisend-212 fakture binne 30 dae te betaal. Dit kom neer op een-miljard-rand se skuld aan verskaffers van goedere en dienste. Madeleine Hicklin van die DA sê die Staatsdienskommissaris, Vusumuzi Mavuso, het onthul slegs 29-persent van die fakture wat die departement ontvang het, is in die eerste kwartaal van 2024/’25 binne 30 dae betaal:
# Inwoners van die Afrikaner-woongebied Kleinfontein in Gauteng sê hulle doen niks onwettig nie. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria die gebied in die ooste van die hoofstad onwettig verklaar het. Die hof het die Stad Tshwane beveel om stappe te doen om alle verordeninge toe te pas wat verband hou met beplanning en bouregulasies op die plase waarop die nedersetting gevestig is. ’n Woordvoerder van Kleinfontein, Dannie de Beer, sê hulle het hulle elektrisiteit, water en ‘n munisipaliteit, en het niks van die metro nodig nie.
# Die Azanian People’s Organisation het kommer uitgespreek oor die a-pokke-uitbreking in Afrika. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die jongste uitbreking op die vasteland as ʼn internasionale gesondheidsnoodgeval verklaar. Gevalle is in minstens 16 lande aangemeld, wat Suid-Afrika, die Kongo, Ghana, Kenia en Rwanda insluit. In Suid-Afrika is 24 gevalle en drie sterftes bevestig. Azapo se woordvoerder, Jabu Rakwena, sê daar is ʼn gekoördineerde, internasionale reaksie nodig om die uitbreking te keer en lewens te red:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, en die Amerikaner Frances Tiafoe sal sake uitspook in die eindstryd van die Cincinnati Ope. Die Italianer het Alexander Zverev van Duitsland verslaan en Tiafoe het twee wedstrydpunte afgeweer voor hy die Deen Holger Rune kon klop. In die vroue-afdeling kom die wêreld-nommer-drie, Aryna Sabalenka van Belarus, in die eindstryd teen die Amerikaner Jessica Pegula te staan. Sabalenka het die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, 6-3, 6-3 verslaan terwyl Pegula vir Paula Badosa van Spanje uitgeskakel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-544-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-505-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-24-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa gaan ʼn afskeidsete bywoon vir hoofregter Raymond Zondo, wat na 27-jaar diens aftree. Die ete vind môre in ʼn hotel in Melrose Arch, Johannesburg, plaas, waarna ʼn spesiale seremoniële sitting van die Konstitusionele Hof gehou word. Die Presidensie sê Zondo het ʼn belangrike rol in regs-hervorming gespeel sedert hy in 2022 as hoofregter aangestel is. Hy het ook die staatskapingskommissie gelei, wat ʼn groot uitwerking op Suid-Afrika se pogings teen korrupsie gehad het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….