Nuus 11:00
BULLETIN 19 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die optimisme oor die regering van nasionale eenheid verdoesel die feite
# ‘n Polisiebeampte wat deel gevorm het van ‘n bende rowers word in KwaZulu-Natal doodgeskiet
# En tennis: Sinner speel teen Tiafoe en Sabalenka teen Pegula in die eindstryde van die Cincinnati Ope
# ActionSA sê Ramaphoria wat die land in 2019 beetgepak het, is soortgelyk aan die optimisme wat nou bestaan vir die regering van nasionale eenheid, want dit spruit voort uit desperaatheid en hoop eerder as waarskynlikhede en werklikhede. Pieter Scribante van die party sê die media se beriggewing na die verkiesing het verskuif van ondergang en somberheid na hernuwing en optimisme. Hy sê sprake van ‘n ekonomiese herlewing, toenemende vertroue in die ekonomie en ‘n nuwe dagbreek vir Suid-Afrika word nie deur enige beleidsverskuiwing of nuwe wetgewing ondersteun nie:
# Die minister in die Presidensie vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê die ontstellende voorkoms van geslagsgeweld en vrouemoorde veroorsaak dat dit gevaarliker is vir ‘n vrou in Suid-Afrika as om in oorloggeteisterde gebiede te wees. Tydens die laaste drie maande van die verlede jaar is 285 kinders en een-duisend-135 vroue vermoor. Altesaam 18-duisend-474 vroue en twee-duisend-281 kinders is gewelddadig aangerand. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê minister Chikunga vra mans om leiding te neem om ‘n einde hieraan te bring:
# Drie verdagtes, waaronder ‘n polisiebeampte, is dood in twee afsonderlike skietvoorvalle met die polisie in Ntuzuma, KwaZulu-Natal, ná ʼn rooftog in Richmond. ʼn Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê ses verdagtes waarvan sommige polisie-uniforms aangehad het, het ʼn winkeleienaar en personeel met wapens aangehou en van wapens, geld en ander artikels beroof:
# Hamas beskuldig die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, dat hy struikelblokke in die pad van ‘n ooreenkoms plaas en nuwe voorwaardes en eise stel met die oog op die verlenging van die oorlog. ‘n Nuwe vredesplan wat Amerika, Katar en Egipte saamgestel het, is verlede week voorgelê na twee dae van samesprekings in Doha. Hamas sê die jongste voorstel sluit nie ‘n permanente skietstaking in nie en gaan terug op ander voorwaardes. Die militante groep het sy wens herhaal dat die drie-ledige voorstel van president Joe Biden van Amerika, uitgevoer moet word.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, en die Amerikaner Frances Tiafoe sal sake uitspook in die eindstryd van die Cincinnati Ope. Die Italianer het Alexander Zverev van Duitsland verslaan en Tiafoe het twee wedstrydpunte afgeweer voor hy die Deen Holger Rune kon klop. In die vroue-afdeling kom die wêreld-nommer-drie, Aryna Sabalenka van Belarus, in die eindstryd teen die Amerikaner Jessica Pegula te staan. Sabalenka het die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, 6-3, 6-3 verslaan terwyl Pegula vir Paula Badosa van Spanje uitgeskakel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-728-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-503-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….