Nuus 07:00
BULLETIN 19 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement is steeds waaksaam oor a-pokke
# Staatsdepartemente skuld munisipaliteite meer as 18-miljard-rand
# En rugby: Die Griekwas looi die Griffons in hul Curriebeker-kragmeting
# Die Departement van Gesondheid sê die huidige a-pokke-uitbreking is onder beheer in Suid-Afrika. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het verlede week die uitbreking in Afrika as openbare gesondheidsnoodgeval van internasionale belang verklaar. Daar is tans 24 bevestigde gevalle in Suid-Afrika, 12 in Gauteng, elf in KwaZulu-Natal, en een in die Wes-Kaap, terwyl drie sterftes aangemeld is. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die publiek moet hulle kant bring en die land se pogings steun om die verspreiding van a-pokke te voorkom:
#Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het erkenning gegee aan Statistieke Suid-Afrika se tweede kwartaalverslag wat ‘n toename in werkloosheid van 32,9-persent tot 33,5-persent toon. Woordvoerder Teboho Thejane sê daar is voortgesette regeringsingrypings en vennootskappe met sakeondernemings om ekonomiese uitdagings aan te spreek. Hy het gewys op pogings om werksgeleenthede te bewaar en werksgeleenthede vir die jeug te ondersteun deur inisiatiewe soos die Presidensiële Jeug-indiensnemingsinisiatief:
# Nasionale en provinsiale regeringsdepartemente skuld munisipaliteite meer as 18,6-miljard-rand aan tariewe, belasting en dienste. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana het dit in ‘n antwoord op ‘n parlementêre vraag van die EFF onthul. Openbare Werke, Onderwys, Gesondheid en Landbou is die departemente wat die meeste skuld. Godongwana sê in Gauteng is die skuld die hoogste met meer as 3,5-miljard-rand, terwyl Wes-Kaapse munisipaliteite met 345-miljoen-rand, die minste geskuld word.
# Die ANC in Gauteng se voorsitter, Panyaza Lesufi, sê as die party wil oorleef, moet hy verander. Hy het die politieke oorsig by die party se provinsiale uitvoerende komitee se lekgotla in Boksburg gelewer. Die ANC het in die Mei-verkiesing die eerste keer sedert 1994 sy volstrekte meerderheid op nasionale vlak verloor. Hy het ook sy greep op die provinsie verloor en Gauteng word nou deur ‘n regering van provinsiale eenheid regeer. Lesufi sê hulle aanvaar ʼn benadering dat hulle nie soos gewoonlik kan voortgaan nie:
# Rugby: Die Griekwas het hulle tweede Curriebeker-oorwinning van die seisoen behaal toe hulle die Griffons, wat onderaan die punteleer is, in Welkom met 59-7 afgeransel het. Die Griekwas het nege drieë gedruk wat twee elk deur Sako Makata, Marco de Witt en Connor Mahoney insluit en vir ʼn bonuspunt-oorwinning gesorg het. Die Griffons kon net een drie druk. Die Griekwas is nou een plek agter die Westelike Provinsie wat sesde is. Ná sewe wedstryde is die Bulle boaan die punteleer met 31 punte, gevolg deur die Leeus en dan die Cheetahs.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-488-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-499-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-66-sent per vat.
# En laastens: President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die bekende akademikus en erfenis-kenner, professor Muxe Nkondo, wat Sondagoggend dood is. Hy was 83. Nkondo was ʼn voormalige visekanselier van die Universiteit van Venda, adjunk-visekanselier van die Universiteit van die Noorde, en Harvard Andrew Mellon-genoot in Engels. Ramaphosa sê Nkondo se nalatenskap is monumentaal en sy lewe is gekenmerk deur sy volgehoue navolging en skepping van kennis wat die wêreld ʼn beter en meer inklusiewe plek gemaak het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….