Nuus 06:00
BULLETIN 19 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verseker ‘n debat oor kragtariewe
# Oekraïne bombardeer ‘n tweede Russiese brug
# En gemengde gevegskuns: Dricus du Plessis se volgende geveg is dalk in Suid-Afrika
# Die DA het sy parlementêre debat oor Eskom se voorgestelde elektrisiteitstariefverhoging verseker. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die debat bevestig, wat ondersoek sal instel na die wettigheid van Eskom se tariefverhoging om volgende jaar ‘n ekstra agt-miljard-rand te verhaal. Kevin Mileham van die DA het verwys na die party se verbintenis tot die bekamping van die tariefverhogings en gewaarsku teen ernstige finansiële las op sukkelende Suid-Afrikaners:
# Nasionale en provinsiale regeringsdepartemente skuld munisipaliteite meer as 18,6-miljard-rand aan tariewe, belasting en dienste. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana het dit in ‘n antwoord op ‘n parlementêre vraag van die EFF onthul. Openbare Werke, Onderwys, Gesondheid en Landbou is die departemente wat die meeste skuld. Godongwana sê in Gauteng is die skuld die hoogste met meer as 3,5-miljard-rand, terwyl Wes-Kaapse munisipaliteite met 345-miljoen-rand, die minste geskuld word.
# ’n Veertigjarige man is gister met sy aankoms uit Zambië by die OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem. Hy is glo een van die baasbreine van ‘n ontvoeringsindikaat wat sakemanne in Suid-Afrika vir lospryse teiken. ‘n Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die Zambiese burger word spesifiek verbind met die ontvoering van ‘n 63-jarige sakeman, wat verlede maand in Helderkruin, Roodepoort ontvoer is:
# Die Oekraïnse lugmag sê hy het ‘n tweede brug in Rusland se Koersk-streek aangeval. Beeldmateriaal wat deur lugmagbevelvoerder Mykola Oleshchuk geplaas is, wys ‘n aanval op ‘n brug in Zvannoe oor die Seym-rivier. Dit is dieselfde rivier waaroor nog ‘n brug vroeër die week vernietig is. Oekraïne se vernietiging van infrastruktuur in die gebied word beskou as ‘n poging om Russiese toevoerlyne of versterkings te belemmer. Oleshchuk sê die Oekraïnse lugmag gaan voort om Rusland se logistieke vermoëns met akkurate lugaanvalle te ontwrig, wat vyandighede beduidend raak.
# Gemengde gevegskuns: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê hulle onderhandel vir ‘n ooreenkoms om Dricus du Plessis se volgende UFC-titelverdedigingsgeveg in Suid-Afrika te hou. Du Plessis het sy middelgewigtitel suksesvol verdedig, ná ‘n oorwinning in die vierde ronde oor die Nigeriese Nieu-Seelander, Israel Adesanya, in Australië. Die departement se woordvoerder, Cassidy Rangata-Jacobs, sê ‘n afvaardiging is na Perth gestuur om met UFC-bestuur te vergader om die saak te bespreek:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-739-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-504-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Die Franse akteur Alain Delon is in die ouderdom van 88 oorlede nadat hy lank met swak gesondheid gesukkel het. Die ster was bekend vir sy rolle in rolprente soos Purple Noon in 1960, The Leopard in 1963, en Le Samourai in 1967. Volgens ‘n verklaring is hy vreedsaam by sy huis in Douchy oorlede, met sy drie kinders en gesin by hom. Die akteur het met swak gesondheid gesukkel sedert hy in 2019 ‘n beroerte gehad het en het selde sy landgoed verlaat. Die Franse president Emmanuel Macron het op X gesê Delon was nie net ‘n ster nie, maar ‘n Franse monument.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….