Nuus 09:00
BULLETIN 18 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Gauteng waarsku oor die gevolge nadat die Johannesburgse stadsraad ‘n mosie om te ontbind, verwerp
# ‘n Groot brand breek uit in Somerset-huis in Londen, maar kunswerke is ongeskonde
# En, Dricus du Plessis is steeds die gemengde gevegskuns wêreldkampioen
# Die DA waarsku teen erge gevolge na sy mosie om die Johannesburgse stadsraad te ontbind, verwerp is. Die DA se koukusleier in Johannesburg, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê ‘n verdeelde koalisie met steun van verskeie partye, insluitend die EFF, Die Good-party, ATM ActionSA en en die ACDP het besluit om vir Dada Morero as Johannesburg se burgemeester te stem. Sy het die besluit gekritiseer en voer aan dit kom neer op steun vir ‘n nalatenskap van korrupsie en agteruitgang:
# Neeshan Balton van die Johannesburg Krisis-alliansie het inussen hul teleurstelling uitgespreek met die nuwe Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, se uitvoerende aanstellings. Alhoewel Morero die meeste van sy uitvoerende gesag behou het, het hy die voormalige burgemeester Kabelo Gwamanda die gemeenskapsontwikkelings-portefeulje toegeken en die voormalige raadspeaker Margaret Arnold vir finansies aangestel. Hy het aan Newzroom Afrika gesê die alliansie het op nuwe gesigte in die uitvoerende span gehoop:
# Nagenoeg 125 brandbestryders het gister gespook met ‘n brand in Somerset-huis in Londen se sentrale gebied, maar het dit intussen onder bedwang gebring. Volgens Somerset-huis se trust-direkteur het die brand in die gebou se westelike vleuel uitgebreek waar geen kunswerke is nie. Niemand is skynbaar beseer nie en die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Die gebou sluit ‘n kunsmuseum in en huisves onder meer Vincent van Gogh, se “Selfportret met Verbinde Oor”, en werke deur Edouard Manet, Claude Monet en Paul Cezanne.
# Suid-Afrika se UFC middelgewig-kampioen, Dricus du Plessis, het sy gemengde gevegskunstitel vanoggend in Perth, Australië, suksesvol verdedig toe hy die Nigeries-gebore Nieu-Seelander Israel Adesanya in die vierde rondte met ‘n wurggreep om die nek op die grond vasgepen het. Die 30-jarige Du Plessis het sy titel in Januarie in ‘n geveg teen die Amerikaner Sean Strickland gewen. Die Springbok-rugbyspan het ná hul oorwinning gister teen die Wallabies hul heelhartige ondersteuning aan Du Plessis gegee. Kaptein Siya Kolisi en slot Eben Etzebeth het Du Plessis na die agtkantige kryt vergesel. Perth is die naweek deur Suid-Afrikaners oorgeneem danksy die Bokke se oorwinning en Du Plessis se geveg.
# En om mee af te sluit, die Stad Kaapstad het meer as 160 hawelose mense na veilige skuilings verskuif na ‘n finale uitsettingsbevel wat die Wes-Kaapse Hooggeregshof toegestaan het. Sowat 140 mense is na die nuwe Ebenezer-skuiling verskuif, en 26 na Culemborg. Dit stad het sommige mense ook gehelp om na hulle eie gemeenskappe terug te keer. Die verskuiwings is deel van voortgesette pogings om openbare ruimtes in die middestad te herstel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….