Nuus 13:00
BULLETIN 17 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa kom in Harare aan vir die SAOG-beraad
# Die Wes-Kaapse polisie arresteer ‘n tienerseun vir die moord op Overbergse meisie
# En, Rugby: Die All Blacks neem wraak en looi die Pumas met 42-10
# President Cyril Ramaphosa het in Harare, Zimbabwe aangekom vir die 44ste Algemene Spitsberaad van SAOG-staats-en regeringshoofde. Die spitsberaad se tema is die Bevordering van Innovering vir Volhoubare Ekonomiese Groei. Die Presidensie sê dit val saam met Suid-Afrika se 30ste herdenking van demokrasie en lidmaatskap van die SAOG. Samesprekings dek streekintegrasie, voedselsekuriteit en gesondheid. Die beraad is onder voorsitterskap van Zimbabwe. Ramaphosa word vergesel deur die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola en die minister van Finansies, Enoch Godongwana.
# Die president het intussen die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga as die waarnemende president vir vandag aangewys. Motshekga sal die presidensiële pligte tydens sy afwesigheid uitvoer.
# Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut verwelkom die regering se besluit om die verkryging van kernenergie op te skort. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het die terugtrekking aangekondig van die plan om twee-duisend-500 megawatt kernenergie te produseer. Die organisasie het die plan in die hof uitgedaag. Woordvoerder Francesca de Gasparis beskou die besluit as ‘n oorwinning vir openbare deelname en demokratiese prosesse:
# Politieke partye in die Stad Johannesburg se raad gaan nuwe speaker-kandidate aanwys na Margaret Arnold se aanstelling as die burgemeesterskomiteelid vir Finansies in burgemeester Dada Morero se nuwe kabinet. ActionSA is glo op die punt om die raad se speaker-pos in te neem, met die Gauteng-leier Funzi Ngobeni wat na verwagting hulle voorkeurkandidaat binnekort sal aankondig:
# Die Wes-Kaapse polisie het ‘n 17-jarige seun vir die moord op ‘n leerder van die Hoërskool Overberg, Deveney Nel, in hegtenis geneem. Die graad -10-leerder se liggaam is verlede Woensdag in ‘n stoorkamer ontdek kort nadat haar ma haar as vermis aangegee het toe sy nie vir haar skoolvervoer opgedaag het nie. ‘n Polisiewoordvoerder sê na ‘n intensiewe ondersoek het speurders ‘n deurbraak gemaak en die seun Vrydag gearrresteer. Hy is van moord aangekla en sal na verwagting Maandag in die Caledonse Landdroshof verskyn.
# En ten slotte: Rugby: In ‘n totale ommekeer van verlede week het die All Blacks wraak geneem en die Pumas op Edenpark in Nieu-Seeland in ‘n Kampioenebekerwedstryd met 42-10 pak gegee. Die Pumas is oorweldig deur die meedoënlose All Blacks wat teen rustyd reeds vyf drieë ingeryg het met die telling op 35-3. Die Pumas het een drie in die 72ste minuut gedruk met die All Blacks wat nog een keer oor die doellyn kon kom. Die Springbokke speel op die oomblik teen Australië teen die Wallabies in die tweede van twee toetse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….