Nuus 09:00
BULLETIN 17 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Barbara Creecy versoek PRASA om voorrang te gee aan die herstel van passasierspoorlyne
# Die DA verwelkom die terugtrekking van die kernverkrygings-aankondiging
# En, Rugby: Die Bokke kan vandag talle mylpale in Perth haal
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, versoek die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika om passasierspoordiens tot sy volle vermoë te herstel. Dit volg na die besluit deur die raad om die Groep Uitvoerende Beampte, Zolani Matthews, se kontrak te beëindig. Creecy steun die besluit, ter wille van stabiele leierskap. ‘n Woordvoerder vir die ministerie, Collen Msibi, sê die minister het die Groephoof, Hishaam Emeran, geloof vir sy vordering om 75-persent van die spoordeurgange te heropen na aansienlike vandalisme:
# Die pas ingesweerde burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, het verbeterde dienslewering beloof met sy uitvoerende span wat dadelik aan die werk gaan spring. Morero, wat vir ‘n tweede termyn verkies is, na ‘n kortstondige een van 25 dae in 2022, het inwoners van verandering verseker en is vasbeslote om sy termyn tot 2026 uit te dien. Hy het ‘n beroep gedoen vir die instelling van ‘n distriksontwikkelingsmodel om die stad se vooruitgang te dryf:
# Die DA verwelkom die regering se terugtrekking van die kernverkrygingsaankondiging van twee-duisend-500 megawatt en bestempel dit as ‘n oorwinning vir openbare deelname en die regsorde. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het bekend gemaak die afkondiging in die Staatskoerant is onttrek weens kommer oor onvoldoende openbare betrokkenheid in die proses. Kevin Mileham van die DA beloof om die saak steeds dop te hou deur parlementêre toesig:
# Rugby: Die Springbokke kan vandag talle mylpale haal in die Rugbykampioenskapstoets teen Australië in Perth. Eben Etzebeth, wat op die bank begin, kan by Bryan Habana aansluit met sy tweede meeste Boktoetse van 124, net drie agter Victor Matfield se rekord van 127. Kwagga Smith speel in sy 45ste toets. Die Bokke hoop om die eerste keer in 50 jaar vier keer agtereenvolgens met die Wallabies af te reken. Die spelers in Suid-Afrika se opdrafspan het saam 332 toetse gespeel.
# En laastens as jy ‘n ander soort vakansie oorweeg, wat van Noord-Korea? Die land gaan later vanjaar sy grense heropen vir internasionale toeriste. Byna alle besoekers is die land sedert 2020 verbied weens streng Covid-beperkings, maar die grens na Samjiyon en moontlik die res van die land gaan oopgestel word. Noord-Korea is besig met ‘n sogenaamde sosialistiese utopia in Samjiyon. Nuwe woonstelle, ‘n ski-oord en handels-, kulturele en mediese sentrums is gebou as deel van ‘n projek om ‘n hoogs-beskaafde stad in die berge te skep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….