Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Energie beloof deursigtigheid in die kernbou-program
# Twee broers word uit Eswatini aan Suid-Afrika uitgelewer om verhoor te word vir die moord op AKA Forbes en Tibz Motsoane
# En, gemengde gevegskuns: Kaapstad se burgemeester beloof ‘n UFC-geveg as Dricus du Plessis vir Israel Adesanya klop
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het beloof om ‘n deursigtige en inklusiewe benadering te volg met die kernbou-program. Hy het verwys na geheimhouding met vorige verkrygingspogings en hom daartoe verbind om die publiek by elke stap in die proses te betrek. Ramokgopa het met die media gepraat oor kernbepalings en herbevestig dat kernenergie deel is van Suid-Afrika se toekomstige energiemengsel. Hy beklemtoon egter dat die benadering noukeurige ondersoek moet deurstaan, en integriteit behou:
# Die Nasionale Skuilingsbeweging van Suid-Afrika veroordeel die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir sy onvermoë om geslagsgeweldsake op te los weens vermiste lêers. Die beweging se raadslede kritiseer die ondoeltreffendheid van die digitale rekordstelsel wat glo geregtigheid en die veiligheid van slagoffers ondermyn. Hulle doen ‘n beroep vir groter aanspreeklikheid, die verskaffing van meer hulpbronne en verbeterde koördinering tussen die polisie en ondersteuningsorganisasies om verdere wanadministrasie te voorkom.
# Die Landdroshof in Manzini, Eswatini, het Suid-Afrika se uitleweringsaansoek vir die Ndimande-broers toegestaan. Siyabonga en Malusi Ndimande word gesoek vir die moord op Kiernan ‘AKA’ Forbes en sy vriend, Tebello ‘Tibz’ Motsoane. Voorsittende hoofregter David Khumalo het die mans verseker hulle veiligheidsoorwegings sal deur Korrektiewe Dienste van Suid-Afrika hanteer word. Hy het beslis Suid-Afrika kan die regsprosesse voortsit:
# Die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging, Satsa, het toeriste verseker die risiko van A-pokke in die streek is steeds laag. Dit volg na die Afrika Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming die volgehoue A-pokke-uitbreking as ‘n openbare gesondheidsnoodsituasie verklaar het wat die vasteland se veiligheid in geheel raak. Satsa se uitvoerende hoof, David Frost, benadruk Suider-Afrika is steeds ‘n veilige en gesogte bestemming. Hy doen ‘n beroep vir akkurate mediaberigte om onnodige vrees en stigmatisering van die hele vasteland te voorkom.
# Gemengde gevegskuns: Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het hom verbind tot die aanbieding van ‘n UFC-geleentheid in die stad indien Dricus du Plessis sy wêreldtitel teen Israel Adesanya suksesvol verdedig. Hulle kom Sondagoggend 6:30 Suid-Afrikaanse tyd in Perth, Australië, teen mekaar te staan. Du Plessis het die middelgewigtitel in Januarie verower met ‘n oorwinning oor Sean Strickland in Toronto en die eerste Suid-Afrikaner geword om ‘n UFC-kampioenskap in te palm. Die UFC se president, Dana White, het aangedui die organisasie kan dalk ‘n geleentheid in Suid-Afrika oorweeg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-280-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-471-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….