Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Augustus 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede sê die Kommissie vir Gelyke Indiensneming moet sy rasseklassifikasie-reëls verduidelik
# Die NVG se hoof verwelkom die minister van Justisie se steun vir toegang tot belangrike data
# En, rugby: Die Pumas en Bulle skop die naweek se Curriebeker-aksie af in Mbombela
# Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede het die Kommissie vir Gelyke Indiensneming skriftelik versoek om redes te verskaf hoekom hy steeds apartheids-era rasseklassifikasies gebruik. Suid-Afrika se post-apartheidregering vereis steeds deur verskeie wette soos die Wet op Diensbillikheid en instellings soos die kommissie, dat mense volgens vier rassekategorieë geregistreer moet wees. Makone Maja van die instituut sê die kommissie behoort rasseklassifikasie te verwerp:
# Die Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, verwelkom die verbintenis van die minister van Justisie, Thembi Nkadimeng, om voorrang te gee aan die afkondiging van toegang tot kritiese inligting. Die Parlement gaan binnekort teenstrydige berigte bespreek oor die NVG se toegang tot die databasis van die Zondo-kommissie. Batohi het die belangrikheid beklemtoon van toegang tot hierdie inligting vir deurlopende ondersoeke. Sy benaduk daar is heelwat frustrasies oor vertragings om bewyse te bekom:
# Die groep wat gekant is teen buitelanders in die land, Operation Dudula, dreig hy gaan voort met optrede om buitelanders se sakeondernemings te sluit. ‘n Een-en-twintig-jarige man is in die hospitaal na hy twee keer geskiet is tydens ‘n rusie met ‘n spaza-winkeleienaar in White City, Soweto. Dit het die vrees vir hernude xenofobiese geweld laat opvlam. ‘n Verdagte word van poging tot moord aangekla. Zandile Dabula van die organisasie sê die skietery op Lusanda Ngcobo was die laaste strooi vir inwoners wat woedend is oor berigte van buitelanders wat voedsel verkoop waarvan die vervaldatum reeds verstryk het.
# Die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging, Satsa, het toeriste verseker die risiko van A-pokke in die streek is steeds laag. Dit volg na die Afrika Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming die volgehoue A-pokke-uitbreking as ‘n openbare gesondheidsnoodsituasie verklaar het wat die vasteland se veiligheid in geheel raak. Satsa se uitvoerende hoof, David Frost, benadruk Suider-Afrika is steeds ‘n veilige en gesogte bestemming. Hy doen ‘n beroep vir akkurate mediaberigte om onnodige vrees en stigmatisering van die hele vasteland te voorkom.
# Rugby: Die Pumas is vanmiddag gasheer vir die Bulle in Mbombela in die eerste Curriebeker-Premiersligakragmeting van die naweek. Môre verwelkom die Leeus die Westelike Provinsie op Ellispark, en die Cheetahs en die Haaie pak mekaar in Bloemfontein. Sondag speel die Griffons en Griekwas in Welkom. Die Bulle is tans boaan die punteleer, gevolg deur die Leeus, die Cheetahs en die Pumas. Die Haaie is in die vyfde plek, WP sesde, Griekwas sewende en die Griffons agste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-376-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-469-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….