Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Augustus 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die EFF-leier, Julius Malema sê sy party moet daarop voorbereid wees dat nog lede die party gaan verlaat. Hy het gereageer nadat die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu oorgeloop het na die MK-party. Dit volg nadat Mzwanele Manyi ook verlede week by MK aangesluit het.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf oor die ongelooflike reis van ‘n skip met giftige afval aan boord. Dit was van Albanië op pad, maar het vinnig uit Suid-Afrikaanse gebiedswater padgegee toe dit opgemerk is.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig vertrouelinge van oudpresident Jacob Zuma in die EFF hou vol dat hulle nie van plan is om die party te verlaat nie. Malema meen Shivambu se onverwagse bedanking as EFF-onderleier het die party in ’n oorlewingstryd gedompel. Hy sê baie ander partylede gaan ook by MK aansluit.
En tweedens skryf die koerant oor die ster-atleet, Bayanda Walaza se helde-ontvangs by die Curro Hazeldean High School in Pretoria waar hy ‘n matriekleerder is. Walaza het gesê hy het geleer om koelkop te bly.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die MK-party het die EFF ‘n slag toegedien.
En berig die Inkomstediens het die super-rykes in sy visier.
# Sowetan:
Berig ook oor die EFF-lede wat by die MK-party aansluit en skryf Malema berei homself voor op ‘n reuse-uittog.
# En The Citizen:
Lei met “FLOYD JUMPS A SINKING SHIP”. Die koerant skryf die MK-party bied dalk vir Shivambu ‘n veilige hawe teen die VBS-beskuldigings teen hom.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met Shivambu se vertrek uit die EFF.
En tweedens skryf die koerant ‘n reuse-rugbystryd word die naweek in die Suide verwag wanneer Grey Kollege teen Paul Roos Gimnasium uitdraf.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld en Volksblad.
Tweedens berig die koerant die Blitsbokke se bronsmedaljes wat hulle by die Olimpiese Spele verower het, dop glo af.
En laastens is daar nuus oor die polisie in Villiers in die Vrystaat wat 24 vermoedelik gesteelde skape in ‘n minibustaxi gekry het.
# En Cape Times:
Skryf oor die redes vir Shivambu se besluit om die EFF te verlaat.
En berig die Departement van Gesondheid het ‘n ernstige waarskuwing uitgereik oor a-pokke.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig krake in die Baai se koalisie het tydens ‘n raadsvergadering aan die lig gekom met raadslede wat die burgemeester, Gary van Niekerk se afwesigheid bevraagteken het terwyl die EFF die sitting geboikot het.
En tweedens skryf die koerant Plettenbergbaai het ‘n behuisingsprobleem met informele nedersettings wat oral in die Bitou-munisipaliteit opduik.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die vonke het gespat by die jaarvergadering van die Comrades Marathon.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig dokters by die staatshospitaal in Rundu voel toenemend ontmoedig weens die voortgesette tekort aan noodsaaklike medikasie.
En skryf tweedens die ministerie van Myne en Energie hef vandag die moratorium op die uitreiking van nuwe lisensies vir die grootmaathandel in brandstof op.