Nuus 06:00
BULLETIN 16 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mzwanele Manyi sê die MK-party is beter toegerus om die land te herower
# AfriForum verwelkom die beperking van die Menseregtekommissie se afdwingbare magte
# En verskeie mense word gearresteer oor die dood van Matthew Perry
# Die voormalige EFF-parlementslid Mzwanele Manyi glo die MK-party is beter toegerus om grondonteiening sonder vergoeding, en beleid soortgelyk aan dié van die EFF toe te pas. Hy en die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu het uit die party bedank om by oudpresident Jacob Zuma se MK-party aan te sluit. Manyi sê MK is meer geskik om die land te herower van wat hy as imperialiste beskryf. Hy sê daar is beweging in die party is en hulle moet hieruit munt slaan.
# AfriForum het die uitspraak van die Appèlhof verwelkom wat die magte van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie beperk. Volgens die uitspraak is die SAMRK se bevindings nie wetlik afdwingbaar nie en moet deur ‘n hof afgedwing word. Die saak behels ‘n geskil tussen die kommissie en die landboumaatskappy, AgroData, oor toegang tot boorgatwater. ‘n Woordvoerder van AfriForum, Louis Boshoff, beskou die uitspraak as ‘n noodsaaklike oorwinning om grondwetlike balans te handhaaf en om te verhinder dat die kommissie sy mandaat oortree:
# Die UDM sê hy wil vir minstens twee jaar bestendigheid in Johannesburg hê. Dit volg omdat die stad vandag ‘n nuwe burgemeester sal hê ná die bedanking van Kabelo Gwamanda. Die ANC se Dada Morero gaan as burgemeester verkies word en soos sake tans staan, het die party 148 stemme, meer as die vereiste 136, om Morero te verkies. Die UDM se sekretaris-generaal, Yongama Zigebe, sê die gereelde wisseling van burgemeesters bevorder nie bestendigheid nie en inwoners word die meeste geraak.
# Die DA in die Oos-Kaap het sy kommer uitgespreek oor die provinsiale Gesondheidsdepartement se kontantvloeikrisis. Uit ‘n begroting van 30,1-miljard-rand vir die 2024/2025-boekjaar, is 6,2-miljard-rand vir skuld aan dienste en verskaffers uit die vorige boekjaar bewillig. Slegs 1,8-miljard-rand word aangewend om onder meer chirurgiese voorrade, mediese toerusting en linne te dek. Die DA se Jane Cowley, sê dis nie net ‘n begrotingskwessie nie, maar ook ‘n menslike tragedie wat intyds afspeel:
# Verskeie mense is in hegtenis geneem in verband met die dood in Oktober verlede jaar van die Friends-akteur, Matthew Perry, in ‘n swembad by sy huis in Kalifornië. Die lykskouer het bevind die 54-jarige is dood as gevolg van die akute nagevolge van ketamien, ‘n kalmeermiddel wat gebruik word om depressie te behandel of as ‘n ontspanningsdwelm. Daar is in Mei bekendgemaak owerhede ondersoek die bron van die ketamien met verskeie mediaberigte wat vermoed die verdagtes is ‘n dokter en dwelmhandelaars.
# Olimpiese Spele: Die Hof vir Arbitrasie in Sport ontken dat hy partydig was toe hy VSA Gimnastiek se appèlaansoek verwerp het, teen die Internasionale Gimnastiekfederasie se besluit om die Roemeen Ana Barbosu van vierde na derde plek op te gradeer in die vloer-eindronde vir vroue. Dit het die Amerikaner Jordan Chiles ‘n medalje ontneem. Die hof het Roemenië se betoog gehandhaaf dat die VSA nie binne die voorgeskrewe minuut beswaar gemaak het nie. Die Amerikaanse media beweer die hoof van die hof se appèlpaneel het bande met Roemenië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-659-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-457-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….