Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ace Magashule se gewese persoonlike assistent kry borgtog in die asbes-korrupsiesaak
# Krieket: Die SA20 begin groot name lok
# En Chidimma Adetshina neem deel aan Mej Heelal Nigerië na haar onttrekking aan Mej Suid-Afrika
# Die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule se gewese persoonlike assistent, Moroadi Cholota, is in die Bloemfonteinse Landdroshof borgtog van twee-duisend-500-rand toegestaan. Die hof het beslis die staat het nie voldoende bewyse voorgelê dat sy ‘n vlugrisiko is nie. Cholota word saam met Magashule en verskeie amptenare aangekla van bedrog en korrupsie rondom ‘n asbes-tender van 255-miljoen-rand. Sy het aanvanklik ingestem om vir die staat te getuig, maar later van plan verander. Cholota is verlede week uit Amerika uitgelewer waar sy vier maande aangehou is.
# Die leier van die EFF, Julius Malema, het sy onwrikbare verbintenis tot die party beloof en verklaar hy sal eendag met die EFF se vlag begrawe word. Dit volg na die bedanking van adjunkpresident Floyd Shivambu en Mzwanele Manyi, wat by Jacob Zuma se MK-party gaan aansluit. Malema het lede verseker die party se hoofkwartier in Johannesburg bly oop en in bedryf. Hy het aan die media gesê ‘n nuwe adjunkpresident sal nie aangewys word voor die party se konferensie in Desember nie:
# Die jongste kernverslag van die Buro vir Voedsel- en Landboukundige Beleid toon globale verkiesings en trae ekonomiese groei beïnvloed die landbouvooruitsigte vir 2024 tot 2033. Die senior ekonoom, Shannon Bold, sê trae groei wêreldwyd en inflasie het ‘n uitwerking op landbou, maar die sektor bly veerkragtig in Suid-Afrika. Die verslag voorspel uitdagings vir veldgewasse en vee. Dit wys terselfdertyd op geleenthede in internasionale markte en tegnologiese vordering vir volgehoue groei.
# Krieket: Die SA20 lok al meer ster-spelers, met die Johannesburgs-gebore Nieu-Seelandse kolwer Devon Conway wat hom tot volgende jaar se derde seisoen verbind het. Dit volg op die Engelse kaptein, Ben Stokes, se aankondiging dat hy volgende jaar vir M-I Cape Town gaan speel. Conway het glo ‘n informele ooreenkoms met Nieu-Seeland Krieket onderteken, soortgelyk aan dié van kaptein Kane Williamson, wat sal verseker dat hy in die SA20 sal kan speel. ESPNcricinfo berig hy gaan vir Joburg Super Kings speel. Williamson het hom by Durban’s Super Giants aangesluit.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-391-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-446-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die gewese Mej Suid-Afrika-finalis Chidimma Adetshina het ‘n uitnodiging aanvaar om mee te ding in die Mej Heelal Nigerië 2024-kompetisie. Sy het aan Mej Suid-Afrika onttrek net ‘n paar dae voor Mia le Roux gekroon is, en sal nou haar pa se vaderland verteenwoordig op 31 Augustus. Binnelandse Sake ondersoek tans Adetshina se ma vir beweerde identiteits-diefstal. Adetshina is opgewonde oor haar nuwe rol en reis:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….