Nuus 09:00
BULLETIN 15 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Energieraad wil hê die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering moet onderteken word
# Numsa bereik ‘n loonooreenkoms met Bidvest SA
# En, ‘n Epidemioloog waarsku kinders loop ‘n groter risiko vir A-pokke-infeksie
# Die Energieraad van Suid-Afrika sê die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering moet nou wet word. Die wetsontwerp baan die weg vir die regstreekse verkryging en transmissie van krag, nie net van Eskom nie, maar ook van privaat kragvoorsieners, sonder om deur ‘n omslagtige regsproses te gaan. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die wetsontwerp moet nog deur president Cyril Ramaphosa oorweeg word, en ‘n tydsraamwerk vir die ondertekening is nie verskaf nie. Die raad sê die wetgewing sal help met die bevordering van kragopwekking en mededinging.
# Die Metaalwerkersvakbond Numsa het ‘n bo-inflasie loonooreenkoms met Bidvest South Africa se vraghouer-depot gesluit. Dit volg na die vakbond hom op ‘n staking voorberei het nadat ‘n dooiepunt bereik is. Die partye het by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie tot ‘n vergelyk gekom. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle het ‘n algemene verhoging van ses-persent vir die werkers bewerkstellig, terwyl ander diensvoorwaardes en voordele onveranderd bly:
# Die DA in Gauteng het onlangs opvolg-oorsiginspeksies by verskeie skole insluitend die Vosloorus Comprehensive School en die Kwanele Primary School in Katlehong gedoen. Die inspeksies volg na klagtes oor die ongereelde en nie-aflewering van maaltye by die skole. Sergio Isa Dos Santos van die DA sê daar was ook kommer oor die gehalte van die maaltye wat aan leerders verskaf is na ‘n dispuut oor die skoolvoedingskontrak van een-miljard-rand:
# ‘n Epidemioloog, Salim Abdool Karim, waarsku kinders is meer vatbaar vir A-pokke weens die tekort aan inentings vir pokke. Sy waarskuwing kom terwyl die waghond van die Afrika-Unie ‘n noodtoestand vir openbare gesondheid verklaar het weens die toename van A-pokke in Afrika. Karim benadruk die noodsaaklikheid van groter waaksaamheid in die gesondheidsektor en wys daarop jonger mense is veral vatbaar vir infeksie.
# Tennis: Die wêreld se nommer een, Jannik Sinner, moes spook om die kwalifiseerder, Alex Michelsen, in die tweede ronde van die Cincinnati Ope te verslaan. Die Italianer kon die Amerikaner na agt breekpunte met 6-4, 7-5 klop. Die Griek, Stefanos Tsitsipas, het die Duitser Jan-Lennard Struff met 4-6, 6-4, 6-3 gewen terwyl die 15de gekeurde Deen, Holger Rune, en Fransman Gael Monfils ook oorwinnings behaal het. In die vroueafdeling het die wêreld nommer een, Iga Swiatek van Pole, Varvara Gracheva van Frankryk met 6-0, 6-7, 6-2 afgeransel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-348-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-454-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….