Nuus 06:00
BULLETIN 15 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Justisie weerlê berigte dat die NVG se toegang tot staatskapingsbewyse belemmer word
# Die DA kritiseer die vertraging in die bekendmaking van misdaadstatistieke vir 2024/2025
# En die kantore van Binnelandse Sake het byna 600-duisend onafgehaalde identiteitsdokumente landswyd
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het bewerings weerlê dat die Nasionale Vervolgingsgesag se Ondersoekdirektoraat verhinder is om ondersoeke volgens die verslag van die Staatskapingskommissie te uit te voer. Volgens News24 het die NVG vir meer as twee jaar geen toegang tot staatskapingsdata nie. Die verslag lui die NVG en die direktoraat het toegang verloor tot ‘n belangrike digitale databasis van bewyse wat deur die kommissie se ondersoekers saamgestel is. Die departement se woordvoerder, Tsekiso Machike, sê dis nie waar nie:
# Die DA is gefrustreerd oor die vertraging met die bekendmaking van misdaadsyfers vir die eerste kwartaal van die 2024/’25-boekjaar. Die syfers moet nog deur die kabinet goedgekeur word. Die polisie het die syfers van die derde kwartaal van 2023/’24 in Februarie bekend gemaak. Die DA se adjunk-woordvoerder oor die Polisie, Lisa Schickerling, het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gevra om die statistiek dringend vry te stel:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê daar is byna 600-duisend onafgehaalde identiteitsdokumente by regeringskantore reg oor Suid-Afrika. Hy het in ‘n skriftelike parlementêre antwoord onthul meer as 450-duisend hiervan is heruitreikings, met meer as 142-duisend eerste ID’s. Die kantore met die meeste onafgehaalde ID’s sluit dié in Gqeberha, Johannesburg, Akasia en Kaapstad in. Drie-en-vyftig werknemers is sedert April 2019 dissiplinêr vervolg vir onreëlmatige verwerking van ID’s, met 33 wat afgedank is.
# Die GOOD-party het sy koalisie-ooreenkoms met die ANC en Patriotic Alliance in die Theewaterskloof-munisipaliteit in die Wes-Kaap beëindig. Dit het nou ‘n koalisie met die DA en die Socialist Revolutionary Workers Party gevorm om die munisipaliteit te bestuur. ‘n DA-lid, Lincoln de Bruyn is tot burgemeester verkies, terwyl GOOD se John Michels die speaker is. Die SRWP sal die voorsitter van die Munisipale Openbare Rekeninge Komitee wees. Die partye sê onder die nuwe koalisie kan inwoners uitsien na verbeterde dienslewering.
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie het a-pokke tot ‘n openbare gesondheidsnoodtoestand van internasionale kommer verklaar. Dit is die hoogste waarskuwingsvlak onder internasionale gesondheidswetgewing. Dit volg nadat die Afrika-sentrum vir Siektebeheer en -Voorkoming Dinsdag die virusinfeksie tot ‘n openbare gesondheidsnoodtoestand op die vasteland verklaar het. Meer as 14-duisend gevalle en 524 sterftes is vanjaar aangeteken. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê hulle is regstreeks betrokke by lande waar die virus voorkom:
# Rugby: Die Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus glo nie vuilspel was die rede vir die een rooi- en vyf geelkaarte wat sy spelers in die afgelope drie toetse gewys is nie, en meen die meeste van die oortredings was net weens swak tegniek. Hy ontken die kaarte was die gevolg van ‘n gebrek aan dissipline, en is nie bekommerd daaroor voor Saterdag se tweede Rugbykampioenskaps-toets teen Australië in Perth nie. Erasmus sê hulle het aan die tegniese kwessies gewerk en sal dit hopelik die naweek regkry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-855-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-448-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….