Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society sê Suid-Afrika se misdaadsyfers lyk soos anargie met onopgeloste sake
# ActionSA eis optrede vir die belemmering van NVG-toegang tot die staatskaping-getuienis
# En Olimpiese Spele: Frankryk ondersoek kuberafknouery na ‘n klagte deur die Algerynse bokskampioen
# Action Society is diep besorg oor die hoё aantal onopgeloste misdaadsake. Meer as 76-duisend moorde en 40-duisend sake van poging tot moord bly onopgelos, tesame met 61-duisend-740 sake van verkragting en 256-duisend gevalle van roof met verswarende omstandighede. ‘n Tekort van agt-duisend-500 speurders en 527 vrywillige bedankings uit die Polisiediens het die situasie vererger. ‘n Woordvoerder van Action Society, Juanita du Preez, kritiseer die gebrek aan gespesialiseerde personeel in die polisie en die uitwerking van politieke inmenging:
# ActionSA beplan om aan president Cyril Ramaphosa te skryf en optrede te eis teen die Departement van Justisie vir belemmering van die Nasionale Vervolgingsgesag. Volgens berigte is die Ondersoekdirektoraat weens nalatigheid van die departement toegang geweier tot sleutelgetuienis oor staatskaping. Athol Trollip van ActionSA vra Ramaphosa om die instelling van die Wysigingswetsontwerp op die NVG te bespoedig en die NVG se onafhanklikheid en befondsing te verbeter:
# Die ondertekening van die Presidensiële Gesondheidsooreenkoms, wat aanvanklik môre by die Uniegebou in Pretoria sou plaasvind, is tot volgende Donderdag uitgestel. Die Presidensie sê die ooreenkoms bou voort op die Presidensiële Gesondheidsberaad van 2023, wat ‘n uitbreiding was van die oorpronklike beraad in 2018. Die ooreenkoms, wat nou op tien pilare staan, is daarop gemik om die sleutel-uitdagings van die nasionale gesondheidstelsel aan te pak. Dit sluit in opgradering van infrastruktuur, gehalte van gesondheidsorg, gereedheid vir pandemies, verbetering van finansiële bestuur in die openbare sektor, bestuur en leierskap.
# Die president van die Palestynse Owerheid, Mahmud Abbas, sal later vandag sy Turkse ampsgenoot, Recep Tayyip Erdogan, in Ankara ontmoet, ‘n dag ná ‘n besoek aan Moskou. Dit vind plaas tydens ‘n gespanne stadium in die tien-maande-lange oorlog tussen Israel en Hamas. Pogings vir ‘n wapenstilstand wankel en Israel staal hom vir dreigende aanvalle deur Iran na die moorde op senior Hamas-amptenare. Erdogan is uiters krities oor Israel se optrede ná Hamas se aanvalle op 7 Oktober. Hy noem die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, die Slagter van Gasa.
# Olimpiese Spele: Frankryk het met ‘n ondersoek na kuberafknouery begin na ‘n klagte deur die Algerynse bokskampioen, Imane Khelif, wat die middelpunt was van geslags-omstredenheid. Die ondersoek het begin na sogenaamde kuberteistering. Die atleet se prokureur sê die 25-jarige Khelif het ‘n klagte gelê oor aanlyn teistering en beskryf dit as ‘n stryd om geregtigheid. Sy is op die voorgrond gedwing deur ‘n wêreldwye twis oor geslag-identiteit en regulering in sport na haar eerste geveg toe haar Italiaanse teenstander, Angela Carini, sekondes na die begin van die geveg handdoek ingegooi het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-221-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-454-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….