Nuus 11:00
BULLETIN 14 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Staatskaping-vervolgings is in gevaar nadat ‘n databasis met bewyse glo verdwyn
# ‘n Menslike waardigheidsgroep versoek ‘n nul-koers vir meer voedselitems te midde van stygende lewenskoste
# En, rugby: Nog lande staan nou ‘n kans om vir die Wêreldbekertoernooi vir mans te kwalifiseer
# Die Nasionale Vervolgingsgesag en die Ondersoekdirektoraat het volgens berigte die databasis met bewyse wat die Zondo-kommissie se ondersoekers ingesamel het, verloor. Dit word toegeskryf aan ‘n gebrek aan onderhoud. Die bewyse is in ‘n veilige wolklêer met gespesialiseerde programmatuur gebêre en die ministerie van Justisie is die bewaarder daarvan. Volgens News24 bevat die databasis vermoedelik nog verswarende getuienis teen ANC-lede en staatsbeheerde instellings soos Eskom en Transnet. Die NGV se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê sonder hierdie getuienis kan hulle nie vordering maak met staatskapingsake nie.
# Die Pietermaritzburgse Economic Justice and Dignity Group sê in die lig van stygende lewenskoste moet bykomende voedselitems ‘n nul-BTW-koers hê. Programkoördineerder Mervyn Abrahams wys daarop dat miljoene Suid-Afrikaners finansieel noustrop trek. Hy het aan eNCA voorgestel die nul-koers op noodsaaklike voedselitems moet van 22 tot 44 vermeerder word, wat ‘n betekenisvolle besparing vir huishoudings tot gevolg sal hê. Abrahams waarsku voedselpryse sal bly styg:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra die Johannesburgse raad om ‘n bevoegde burgemeester te verkies wat korrupsie en wanadministrasie kan aanpak. ‘n Nuwe burgemeester word Vrydag verkies nadat Kabelo Gwamanda gister bedank het. Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, beklemtoon die behoefte aan sterk leierskap om die stad reg te ruk. Hy sê Dada Morero van die ANC, wat as volgende eerste burger beskou word, is nie die organisasie se voorkeur-keuse nie:
# Japan se eerste minister, Fumio Kishida, sê hy gaan hom nie vir ‘n tweede termyn as die Liberale Demokratiese Party se leier verkiesbaar stel nie. Sy besluit bring ‘n einde aan ‘n termyn van drie jaar wat gekenmerk is deur skandale, stygende lewenskoste en ‘n rekordbesteding op verdediging. Die 67-jarige Kishida se gewildheidskoers het verlede maand tot 15,5-persent gedaal. Hy sê die duidelikste stap om te bewys dat sy party verander, is vir hom om te bedank. Hy sê deursigtige en vrye verkiesings en vurige debatvoering is nou belangriker as ooit tevore.
# Rugby: Wêreld-Rugby het veranderings aan die formaat vir 2027 se Wêreldbekertoernooi vir mans in Australië aangekondig en die aantal spanne van 20 tot 24 te vermeerder. Twaalf spanne, insluitend Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Ierland en Engeland, het regstreeks gekwalifiseer deur in die boonste drie van hulle onderskeidelike groepe te eindig op verlede jaar se toernooi in Frankryk. Wêreld-Rugby se uitvoerende hoof, Alan Gilpin, sê die 12 ander lande sal ‘n internasionale kwalifiseringsproses deurgaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-751-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-469-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….