Nuus 06:00
BULLETIN 14 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar sal binnekort prestasie-ooreenkomste met ministers onderteken word
# A-pokke word as gesondheidsnoodtoestand in Afrika verklaar
# En rugby: Rassie Erasmus ontken dat hy die Wallabies minag met ‘n ander span vir Perth
# President Cyril Ramaphosa sê die ondertekening van prestasie-ooreenkomste met ministers in die regering van nasionale eenheid sal plaasvind ná die goedkeuring van die Mediumtermyn-ontwikkelingsplan. Dié plan word nog deur die Kabinet oorweeg. Ramaphosa het in 2020 aangekondig dat hy prestasie-ooreenkomste met ministers onderteken het, maar vordering met dié ooreenkomste is nooit bekend gemaak nie. In ’n skriftelike antwoord op ’n parlementêre vraag van die EFF sê die president die verwagtinge van ministeriële prestasie is in die Grondwet verskans, en nie net afhanklik van die ondertekening van prestasie-ooreenkomste nie.
# ActionSA is diep besorg na die verslag van Statistieke SA dat werkloosheid in Suid-Afrika gestyg het tot 33,5-persent, met die uitgebreide koers wat op 42,6-persent staan. Volgens die woordvoerder, Athol Trollip, sien die party ‘n dramatiese toename in die aantal werkloses met die werkloosheid onder die jeug wat tot 60,8-persent gestyg het. Hy kritiseer die regering vir sy versuim om iets daadwerkliks aan die krisis te doen en versoek die dringende implementering van doeltreffende ekonomiese beleid:
Die GOOD Party veroordeel intussen die stygende werkloosheidsyfer wat 8,4-miljoen mense raak. Die party voer aan dat met 76-persent van die werkloses reeds ‘n jaar of langer sonder werk, is daar ‘n dringende behoefte aan ‘n basiese inkomstetoelae en noemenswaardige ekonomiese groei om die krisis aan te spreek. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, vra vir ‘n omvattende hersiening van maatskaplike sekerheid en kritiseer die bestaande ontoereikende ondersteuning en onvervulde beloftes:
# Die ANC in Johannesburg beloof ‘n gladde oorgang nadat burgemeester Kabelo Gwamanda bedank het. Speaker Margaret Arnolds het ‘n spesiale raadsvergadering belê om ‘n nuwe burgemeester te kies ten einde voortgesette kontinuïteit in stadsbestuur te verseker. Die ANC sê hy het deeglike interne samesprekings met koalisievennote gevoer. Die ANC se streeksekretaris, Sasabona Manganya, het Gwamanda op ‘n nuuskonferensie bedank vir sy diens, en sê die party fokus op die behoud van bestendigheid en doeltreffende dienslewering tydens die oorgang:
# Die Afrika Sentrum vir Siektebeheer het a-pokke tot ‘n gesondheidsnoodgeval verklaar ná ‘n vinnige toename in infeksies op die vasteland. Sedert die begin van die jaar is meer as 13-duisend-700 gevalle en 450 sterftes in die Demokratiese Republiek die Kongo alleen aangeteken. Die virus het na ander Afrikalande versprei, insluitend Suid-Afrika, Kenia en Rwanda. Hierdie besluit sal regerings help om hul reaksie te koördineer en finansiële hulp te kry. Intussen sal die Wêreldgesondheidsorganisasie vandag beraadslaag of ‘n Openbare Gesondheidsnoodgeval van Internasionale Kommer verklaar moet word.
# Rugby: Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus sê hy het nie ‘n gebrek aan respek vir die Wallabies nie. Dit volg nadat hy ‘n heeltemal ander span gekies het vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets in Perth. Hy het 10 veranderings aangebring aan die opdrafspan wat Australië in Brisbane met 33-7 afgeransel het, met kaptein Siya Kolisi en ander ervare spelers wat ruskans kry. Erasmus sê daar is genoeg diepte om te waag met die insluiting van verskeie jong spelers. Hy steun die span om die verwagte aanslag deur ‘n groep heelwat sterker Wallabies af te weer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-419-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-463-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….