Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Johannesburg se burgemeester bedank
# Minister Mchunu beloof om korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens uit te roei
# En, gemengde gevegkuns: ‘n Reuse-stryd word Sondag verwag wanneer Stillknocks The Last Stylebender pak
# Die burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda, het bedank. Hy het sy bedanking by die speaker van die raad, Margaret Arnolds, ingedien. Die inwerkingtreding van sy bedanking sal bepaal word deur Arnolds, wat toesig sal hou oor die verkiesing van ‘n nuwe burgemeester. Verskeie burgerlike organisasies, insluitend die Johannesburgse Krisis-alliansie en politieke partye soos ActionSA, het Gwamanda se verwydering bepleit. Gwamanda, die stad se jongste burgemeester op 39, meen hy was in sy termyn sedert Mei verlede jaar suksesvol ten opsigte van finansiële bestendigheid en stadsbestuur. Hy sal as raadslid aanbly.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê die werk gaan voort om alle korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens uit te roei. Dit volg nadat vier polisiebeamptes in die Misdaadintelligensie-eenheid, en ‘n werknemer van First National Bank onlangs in Gauteng vasgetrek is vir beweerde korrupsie, afpersing, ontvoering en aanranding. Die minister se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê interne tugprosesse sal dringend teen die polisiebeamptes ingestel word:
# Die Afrika-sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming wil A-pokke tot gesondheidsnoodsituasie op die vasteland verklaar. Die uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo – die ergste wat nog ooit aangeteken is – het na nóg vier lande versprei. Meer as 14-duisend gevalle is in die gebied aangemeld, waarvan die meeste onder kinders. Honderde mense is reeds dood. Die direkteur-generaal van die sentrum, Jean Kaseya, sê hulle het dringend tien-miljoen dosisse entstof nodig, maar die koste van meer as duisend rand per dosis is ‘n struikelblok.
# Gemengde gevegskuns: ‘n Reuse-stryd word Sondag in Perth, Australië, verwag wanneer die heersende kampioen, Dricus du Plessis van Suid-Afrika, teen die Nigeries-gebore Israel Adesanya te staan kom vir die UFC se wêreld-middelgewigtitel. Du Plessis het die titel in Januarie beklink toe hy die Amerikaner Sean Strickland in Kanada verslaan het. Adesanya, bekend as The Last Stylebender, het die titel in September verlede jaar aan Strickland afgestaan. Du Plessis, met die bynaam Stillknocks, glo ‘n oorwinning oor Adesnya sal hom een van die bestes ooit maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-974-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-460-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: SANParke vier volgende maand die 19de jaarlike SA Nasionale Parke-week met gratis toegang tot die meeste van sy 21 nasionale parke. Die geleentheid begin op die agste in die Marakele Nasionale Park in Limpopo en strek tot die 14de en 15de by uitgesoekte parke. Die projek is daarop gemik om die natuurlike en kulturele erfenis van Suid-Afrika te bevorder en bewustheid van bewaring en volhoubare ontwikkelingspraktyke te ontwikkel. SANParke se woordvoerder, JP Louw, wys daarop die gratis toegang sluit nie verblyf of bykomende toeristebedrywighede in nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….