Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Augustus 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met gemengde gevegskuns: ‘n Reuse-stryd word Sondag in Perth, Australië, verwag wanneer die heersende kampioen, Dricus du Plessis van Suid-Afrika, teen die Nigeries-gebore Israel Adesanya te staan kom vir die UFC se wêreld-middelgewigtitel. Du Plessis het die titel in Januarie beklink toe hy die Amerikaner Sean Strickland in Kanada verslaan het. Adesanya, bekend as The Last Stylebender, het die titel in September verlede jaar aan Strickland afgestaan. Du Plessis, met die bynaam Stillknocks, glo ‘n oorwinning oor Adesnya sal hom een van die bestes ooit maak.
# Olimpiese Spele: Die Hof vir Bemiddeling in Sport gaan nie sy beslissing oor die terugtrekking van die Amerikaanse gimnas, Jordan Chiles, se bronsmedalje in Parys heroorweeg nie. Dit is ten spyte van video-bewyse wat die Amerikaanse Gimnastiekvereniging voorgelê het. Die hof het die Roemeense Olimpiese Komitee se appèl gehandhaaf dat die Amerikaanse span se navraag oor Chiles se telling ná die spertyd van ‘n minuut ingedien is en verwerp moet word. Ana Barbosu van Roemenië sal die bronsmedalje kry. Die Gimnastiekvereniging sê hy sal voortgaan om alle moontlikhede en ‘n appèlproses na te volg.
# Vervolgens, krieket: Engeland het voor die toetsreeks teen Sri Lanka nog ‘n kopseer bygekry met die veelsydige Chris Woakes wat weens ‘n besering uit The Hundred onttrek het. Sy span, Birmingham Phoenix, sê hy is nie beskikbaar vir die res van vanjaar se kompetisie nie. Dit volg nadat kaptein Ben Stokes Sondag sy been beseer het in dieselfde kompetisie terwyl hy vir Northern Superchargers teen Manchester Originals gespeel het. Hy het vermoedelik sy agterknie-sening seergemaak, maar dis nie seker hoe ernstig dit is nie. Die toetsreeks begin volgende Woensdag.
# Tennis is volgende aan die beurt: Die Australiër Alexei Popyrin het Andrey Rublev van Rusland 6-2, 6-4 verslaan om die Kanadese Ope te wen. Hy is die tweede-laagste gekeurde kampioen in die toernooi se geskiedenis. Die 25-jarige is die eerste Australiër sedert Lleyton Hewitt wat ‘n Meesters Een-duisend-geleentheid wen. Popyrin is nou 23ste op die wêreldranglys, die beste van sy loopbaan, en sal moontlik vir die Amerikaanse Ope gekeur word. In die vroue-afdeling het die Amerikaner Jessica Pegula haar landgenoot Amanda Anisimova 6-3, 2-6, 6-1 geklop en die titel die tweede agtereenvolgende jaar opgeraap.
# En, ons sluit af met sokker: Die verhoor oor Manchester City se vermeende 115 oortredings van die Premierliga se finansiële regulasies kan na verwagting van November tot volgende maand vervroeg word. Die heersende Premierliga-kampioen is verlede jaar aangekla dat hy tussen 2009 en 2018 reëls oor finansiële regverdigheid oortree het. Die klub het die Premierliga in dié tydperk drie keer gewen. City ontken al die aantygings. Indien die verhoordatum na middel- of laat-September verskuif, kan uitspraak volgens berigte vroeg volgende jaar verwag word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….