Nuus 11:00
BULLETIN 13 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryemarkstigting sê die Nasionale Gesondheidsversekering is ‘n sondebok vir die ANC
# Die ANC in Limpopo ondersteun steeds sy adjunkvoorsitter wat by die VBS Bank-sage betrek word
# En Trump sê Harris is onbevoeg
# Die Vryemarkstigting sê die Nasionale Gesondheidsversekering was die perfekte sondebok vir die ANC om rekenpligtigheid te vermy vir die erge wanbestuur van openbare gesondheidsdienste. Die Hooggeregshof in Pretoria het verlede maand beslis sekere bepalings van die Wet op die NGV is ongrondwetlik. Die uitspraak hou verband met die behoeftesertifikaat wat voorskryf waar dokters kan praktiseer. Mike Settas van die stigting sê die sertifikaat sou veroorsaak het dat privaat dokters diensknegte van die staat word:
Die Vereniging van Staatsamptenare hoop intussen die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se nuwe inligtingstoere en slypskole oor die Wet op die Nasionale Gesondheidsversekering sal belanghebbendes se kommer aanpak en regsuitdagings verminder. Die vereniging ondersteun hierdie inklusiewe raadplegingsproses. Claude Naiker van die vereniging verwag ‘n gladde instelling van die wet wat tot voordeel van alle Suid-Afrikaners sal wees:
# Die ANC in Limpopo sê hy gaan nie sy ondervoorsitter wat by die VBS Mutual Bank-skandaal betrek word, afdank nie. Die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Florence Radzilani, word daarvan beskuldig dat sy 300-duisend-rand ontvang het omdat sy tydens haar termyn as burgemeester, van die Vhembe-munisipaliteit se geld by die bank belê het. ANC-woordvoerder Jimmy Machaka het aan News24 gesê gegrond op die inligting tot die party se beskikking, sal hulle haar beskerm. Indien bewyse egter gevind word dat sy voordeel getrek het, sal die party sy standpunt verander.
# Oudpresident Donald Trump van Amerika sê visepresident Kamala Harris is meer onbevoeg as president Joe Biden. Hy het gepraat met die uitvoerende hoof van Tesla, Elon Musk, op Musk se sosiale mediaplatform, X. Harris is die Demokrate se presidentskandidaat nadat Biden onttrek het. Daar word beweer Trump het tydens die onderhoud vals bewerings gemaak oor die ekonomie, buitelandse beleid, immigrasie en sy rekord as president. Harris se veldtog veroordeel die onderhoud en beweer dis ‘n voorbeeld van Trump se ekstremisme en gevaarlike Projek 2025-agenda.
# Sokker: Die verhoor oor Manchester City se vermeende 115 oortredings van die Premierliga se finansiële regulasies kan na verwagting van November tot volgende maand vervroeg word. Die heersende Premierliga-kampioen is verlede jaar aangekla dat hulle tussen 2009 en 2018 reëls oor finansiële regverdigheid oortree het. Die klub het in dié tydperk die Premierliga drie keer gewen. City ontken al die aantygings. Indien die verhoordatum na middel- of laat-September verskuif, kan uitspraak volgens berigte vroeg volgende jaar verwag word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-348-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-464-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….