Nuus 09:00
BULLETIN 13 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ouditeur-generaal wil hê meer moet gedoen word om wesenlike onreëlmatighede te voorkom
# Die polisie arresteer meer as 14-duisend verdagtes in ’n weeklange optrede
# En die VSA stuur ‘n duikboot met geleide missiele na die Midde-Ooste
# Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, sê finansiële bestuur is ‘n groot uitdaging in regeringsdepartemente, instellings en munisipaliteite. Sy het die Parlement se Persgalery-vereniging toegespreek. Oudits ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur in die 2022/2023-boekjaar het ‘n geskatte verlies van 14,34-miljard-rand getoon. Maluleke sê die meeste hiervan is onverhaalbaar. In plaaslike regering het die geskatte verlies in die 2022-boekjaar vyf-komma-een-nege-miljard-rand beloop. Maluleke sê meer moet gedoen word om wesenlike onreëlmatighede te verhoed.
# Die polisie het die afgelope sewe dae landwyd 14-duisend-157 verdagtes deur middel van Operasie Shanela gearresteer. Dit sluit in 159 vir moord, 271 vir verkragting en 334 dwelmhandelaars. Die polisie het 250 padblokkades en ander operasies uitgevoer en 70 gesteelde voertuie teruggevind. Woordvoerder Athlenda Mathe sê ‘n ontvoerde sakeman is gered en ‘n groot aantal transito-rowers en edelmetaaldiewe is vasgetrek:
# Die polisie in Gauteng ondersoek die omstandighede rondom die dood van drie sibbe van die Evaton Primary School in Sebokeng en ‘n graad agt-leerder van Tsakane Secondary School in Ekurhuleni. Die Gautengse Onderwysdepartement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die drie sibbe wat in graad drie, vier en vyf was, is Maandag vermoedelik aan voedselvergiftiging dood. Mabona sê by die Tsakane Secondary School het twee leerders vermoedelik rottegif ingekry:
# Die Amerikaanse regering het ‘n geleide missielduikboot na die Midde-Ooste gestuur terwyl ‘n vliegdekskip reeds op pad is en sy pas gaan versnel. Die minister van Verdediging, Lloyd Austin, het dit bevestig te midde van vrese van die streekskonflik wat kan uitkring na die sluipmoorde op senior leiers van Hezbollah en Hamas. Volgens die BBC het Austin gesê Amerika sal alles moontlik doen om Israel te beskerm. Iran word ook fyn dopgehou vir ‘n moontlike reaksie na die moord op die politieke leier van Hamas, Ismael Haniyeh, in die hoofstad van Iran.
# Tennis: Die Australiër Alexei Popyrin verpletter Andrey Rublev van Rusland met 6-2, 6-4 en wen die Kanadese Ope. Hy is die tweede-laagste gekeurde kampioen in die toernooi se geskiedenis. Die 25-jarige is die eerste Australiër sedert Lleyton Hewitt wat ʼn Meesters 1000-geleentheid wen. Popyrin is nou in die 23ste plek, die beste van sy loopbaan, en sal moontlik vir die Amerikaanse Ope gekeur word. In die vroue-afdeling het die Amerikaner Jessica Pegula haar landgenoot, Amanda Anisimova, met 6-3, 2-6, 6-1 geklop en die titel die tweede agtereenvolgende jaar opgeraap.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-139-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-464-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….