Nuus 08:00
BULLETIN 13 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party se saak teen die SAUK oor die gebruik van die regering van nasionale eenheid is vandag in die hof
# Die DA kritiseer die direkteur-generaal van Toerisme oor ‘n beweerde toksiese werksomgewing
# En vier Gauteng-leerders is dood aan vermoedelike voedselvergiftiging en rotgif
# Die Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg hoor vandag die MK-party se saak teen die SAUK aan. Die party het ‘n dringende aansoek ingedien teen die openbare uitsaaier se gebruik van die term, regering van nasionale eenheid. Die MK-party voer aan die huidige skikking as gevolg van gewone demokratiese uitkomste pas nie by die definisie van ʼn regering van nasionale eenheid nie. Hy beweer die SAUK mislei die publiek doelbewus deur die term te gebruik. Die party wil hê die hof moet die uitsaaier se optrede ongrondwetlik verklaar.
# Die DA vra ‘n ondersoek na die direkteur-generaal van Toerisme, Victor Tharage, na berigte van afknouery en magsmisbruik. Sy optrede het na bewering gelei tot die bedanking van verskeie senior personeellede. Die party is bekommerd watter invloed die toksiese werksomgewing op moraal, produktiwiteit en die toerisme-bedryf se doeltreffendheid het. Haseena Ismael van die DA vra die minister, Patricia de Lille, om aandag te gee aan die probleem en ‘n respekvolle, inklusiewe werksplek te verseker:
# Die polisie in Gauteng ondersoek die omstandighede rondom die dood van drie sibbe van die Evaton Primary School in Sebokeng en ʼn graad agt-leerder van Tsakane Secondary School in Ekurhuleni. Die Gautengse Onderwysdepartement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die drie sibbe wat in graad drie, vier en vyf was, is Maandag vermoedelik aan voedselvergiftiging dood. Mabona sê by die Tsakane Secondary School het twee leerders vermoedelik rottegif ingekry:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, waarsku Iran teen ʼn aanval op Israel en sê ʼn oorlog is in niemand se belang nie. Hy het per telefoon met Iran se president Masoud Pezeshkian gepraat oor die noodsaaklikheid dat alle partye terugstaan om verdere konfrontasie te vermy. Vrese vir groter konflik in die Midde-Ooste neem toe na die onlangse sluipmoorde op senior leiers van Hisbolla en Hamas. Starmer sê hy het aan Pezeshkian gesê daar is ʼn ernstige gevaar van misgissing en dat dit nou tyd is vir kalmte en versigtige besluite.
# Olimpiese Spele: Die Hof vir Bemiddeling in Sport gaan nie sy beslissing oor die terugtrekking van die Amerikaanse gimnas, Jordan Chiles, se bronsmedalje in Parys heroorweeg nie. Dit ten spyte van video-bewyse wat die Amerikaanse gimnastiekvereniging voorgelê het. Die hof het die Roemeense Olimpiese Komitee se appèl gehandhaaf dat die Amerikaanse span se navraag oor Chiles se telling ná die eenminuut-spertyd ingedien is en verwerp moet word. Ana Barbosu van Roemenië sal die bronsmedalje kry. Amerika se gimnastiekvereniging sê hy sal voortgaan om elke moontlike opsie en appèlproses na te volg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-306-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-463-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….