Nuus 07:00
BULLETIN 13 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP wil nie hê die party moet sy identiteit verloor in die regering van nasionale eenheid nie
# Daar is toenemende oproepe vir samewerking tussen die polisie, AfriForum en veiligheidsagentskappe teen misdaad
# En rugby: Duane Vermeulen sinspeel op moontlike veranderings vir die kragmeting teen die Wallabies
# Die IVP se Nasionale Raad sê die party moenie sy identiteit in die regering van nasionale eenheid verloor nie. Dié raad is die IVP se hoogste besluitnemingsliggaam tussen konferensies. Die IVP het twee posisies in die Kabinet. Die raad doen ‘n beroep op die party om IVP-beleide en die 2024-manifes doelgerig te bevorder in die regering van nasionale eenheid se basiese minimum program van prioriteite. Hy verwelkom ook die party se deelname aan die provinsiale regering van nasionale eenheid in KwaZulu-Natal en Gauteng.
# AfriForum versoek die Suid-Afrikaanse Polisiediens om nou met buurtwagte en ander sekerheidsagentskappe saam te werk ten einde toenemende misdaad te bekamp. Die oproep volg na die onthulling van ‘n ernstige tekort van agt-duisend-500 speurders en ‘n agterstand met onopgeloste sake. Woordvoerder, Jacques Broodryk, sê onlangse syfers toon aan meer as 80-duisend moord- en 61-duisend verkragtingsake is onopgelos gesluit weens ontoereikende mannekrag en onvoldoende hulpbronne:
# Die EFF in Limpopo vra dat die regering onmiddellik ongebruikte plase en plase wat vir misdaad gebruik word sonder vergoeding onteien. Dit volg nadat ʼn vermeende vuurwapen-opleidingskamp in Modimolle ontdek is. Die polisie het twee weke gelede op ʼn vermeende militêre opleidingskamp in Witrivier, Mpumalanga, afgekom. Die EFF sê sommige plase in Limpopo word gebruik deur geharde misdadigers en terroriste. Hy sê ʼn multidissiplinêre span moet aangestel word om die onwettige aktiwiteite te bekamp.
# Golden Arrow Bus Services en Eskom het ‘n samewerkingsmemorandum onderteken om die ontplooiing van elektriese busse te vergemaklik. Die busdiens beplan om 120 elektriese busse in gebruik te neem met aflewerings wat vanjaar begin en volle bedryf wat teen Desember 2025 verwag word. Die ooreenkoms sal samewerking met die verskaffing van elektrisiteit vergemaklik, insluitend hernubare energie en infrastruktuurontwikkeling. Uitvoerende hoof, Francois Meyer, beklemtoon die belangrikheid van vennootskappe vir ‘n suksesvolle oorgang na elektriese openbare vervoer.
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het bevestig Suid-Afrika kan nie die 44ste SAOG-beraad uit Zimbabwe verskuif nie. Dit volg na oproepe om optrede ná Zimbabwe se aanslag teen opposisie-politici en die burgerlike gemeenskap. Amnestie Internasionaal en Human Rights Watch eis die vrylating van diegene wat aangekeer is. Woordvoerder Chrispin Phiri beklemtoon die behoefte aan dialoog en die nodigheid om aandag te gee aan onrus voor die beraad:
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Duane Vermeulen, sê daar is geen plek vir selftevredenheid terwyl die span gereedmaak om Saterdag in Perth teen Australië uit te draf nie. Die wêreldkampioene het die afgelope naweek hulle Rugbykampioenskap-veldtog teen die Wallabies in Brisbane met ʼn 33-7-sege afgeskop. Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus kondig vandag sy wedstrydgroep aan. Vermeulen sê veranderinge aan die beginspan kan voordelig wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-417-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-465-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….