Nuus 06:00
BULLETIN 13 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê meer moet gedoen word om vroue se ekonomiese deelname uit te brei
# Sasol staar ‘n netto verlies in die gesig as gevolg van die daling in waardes en markdruk
# En rugby: Die Wallabies word gekniehalter deur beserings voor hul Perth-toets teen die Springbokke
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika het nog ‘n lang pad om te stap om vroue se ekonomiese deelname uit te brei. In ‘n Gallup-studie getiteld, Geslagskrag in Afrika, het Suid-Afrika die hoogste syfer van werklose vroue uit die lande wat betrek is. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa deur verskeie departemente en entiteite bied die staat finansiële ondersteuning aan vroue om hulle in staat te stel om hul sakeondernemings te begin en bestaande ondernemings te onderhou. Hy sê die bemagtiging van vroue dra by tot florerende ekonomieë en spoor produktiwiteit aan.
# Die regspan van die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent meen die staat se saak teen haar is swak. Moroadi Cholota is beskou as ‘n deurslaggewende staatsgetuie in die 255-miljoen-rand asbes-tenderskema-saak. Sy is later aangekla nadat sy geweier het om saam te werk. Cholota, wat verlede Donderdag uit die VSA gedeporteer is, het gister in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn waar die saak tot vandag uitgestel is. Haar prokureur, Piet Tibane, sê die staat het sy kliënt onaanvaarbaar behandel:
# Sasol verwag ‘n beduidende netto-verlies van 55,8-miljard-rand weens waarde-dalings van altesaam 75,4-miljard-rand. Die maatskappy ondervind onderdrukte pryse en marges van chemiese produkte, ondanks die sterker rand-olieprys en verbeterde raffinadery-marges. Sasol verwag ‘n afname van tussen twee- en 17-persent in aangepaste verdienste voor rente, belasting en depresiasie, met ‘n basis-verlies per aandeel van tussen 68-rand-82 en 71-rand-48-sent. Die maatskappy het bevestig sy syfers sal volgende Dinsdag bekendgemaak word.
# ‘n Voormalige burgemeester van Johannesburg, Mpho Phalatse, sê ‘n nuwe leier behoort aandag te gee aan voortgesette uitdagings en die verbetering van dienslewering. Sy het aan eNCA gesê burgemeesters erf steeds ‘n gebroke stad. Phalatse het politieke onbestendigheid uitgewys as ‘n vername bydraer tot die uitdagings waarmee inwoners te kampe het. Sy beklemtoon die behoefte aan beduidende hervormings om die stad te herstel en doeltreffende bestuur teweeg te bring:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het Turkye weereens lof toegeswaai vir sy toetrede tot Suid-Afrika se volksmoordsaak by die Internasionale Strafhof. Dit plaas nog meer internasionale druk op Israel, en maak Turkye die sewende land wat betrokke wil raak, naas Colombia, Nicaragua, Spanje, Libië, Palestina en Mexiko. Woordvoerder Chrispin Phiri sê daar moet geregtigheid in Gaza wees:
# Rugby: Die Wallabies het ‘n driedubbele beseringsterugslag gehad voor die tweede toets in die Rugby-kampioenskap teen die Springbokke in Perth. Dit dra by tot die druk op die tuisspan na sy 33-7 nederlaag teen die wêreldkampioene in die eerste wedstryd in Brisbane. Slotte Nick Frost en Jeremy Williams het albei stampe teen die kop gekry en vleuel Filipo Daugunu het sy been gebreek. Hulle sal waarskynlik deur Josh Canham, Sam Carter en Marika Koroibete vervang word. Dit is ook onseker of vaskopstut Taniela Tupou terug sal wees na die afsterwe van sy pa.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-444-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-474-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….