Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die afsluitingseremonie van die Olimpiese Spele in Parys het iets van alles gehad – tot Tom Cruise wat die toeskouers met ‘n paar heldhaftige toertjies betower het. Die ster van Mission: Impossible, geklee in ʼn leerbaadjie en -handskoene, het met ʼn tou van die Stade de France se dak afgesak. Billie Eilish, Snoop Dogg en die Red Hot Chili Peppers het opgetree. H.E.R. het die Amerikaanse volkslied gesing om die Spele aan Los Angeles te oorhandig, waar dit in 2028 sal plaasvind. Die kunsregisseur Thomas Jolly en uitvoerende regisseur, Thierry Reboul, het die seremonie beplan.
# Disney het 14 kunstenaars as legendes vereer. Dit sluit in akteurs soos Harrison Ford en Angela Bassett, die sangeres Miley Cyrus en die regisseur James Cameron. Die maatskappy sê die kunstenaars het ʼn groot uitwerking gehad op Disney se nalatenskap. In die verlede is Christina Aguilera, Stan Lee, Betty White en Oprah Winfrey ook vereer. Disney het nog ses mense vereer wat agter die skerms betrokke is en tot baanbrekerflieks, -kuns en Disney-ervarings bygedra het. Dit sluit die Oscar-wenner en kostuumontwerper, Colleen Atwood, en die bekende animasie-kunstenaar Mark Henn in.
# Die ontwykende kunstenaar, Banksy, het bevestig hy het piranhas in die water op die waghuisie van die polisie in Londen geverf, wat gisteroggend die eerste keer opgemerk is. Skares het foto’s geneem, maar versperrings is opgerig om mense te verhinder om nader te gaan. Dit is sy sewende nuwe kunswerk binne ‘n week nadat ‘n bok, apies, olifante, ‘n wolf, pelikane en ‘n kat oornag verskyn het. Banksy hoop blykbaar hierdie opbouende werke sal mense opbeur en onderstreep die mens se skeppingsvermoë eerder as negatiwiteit en vernielsug.
# Die Universiteit van Johannesburg het pas ‘n Vroue-bloemlesing bekend gestel, ‘n boek wat essays, persoonlike staaltjies en gedagtes bevat waartoe vooraanstaande Suid-Afrikaanse leiers, aktiviste, geleerdes en beleidmakers bygedra het. Professor Lethlokwa Mpedi sê die boek ondersoek die veelvuldige ervarings van vrou-wees en bied ‘n oorsig van die prestasies en uitdagings waarmeer vroue vandag te kampe het. Die boek het onder meer bydraes van gerekende leiers soos professor Zeblon Vilakazi en die stigter van Brand Africa, Thebe Ikalafeng.
# En die fietsryer en stigter van Ga-Rankuwa se Fietsry teen Dwelmmisbruik, Victor Phiri, het 270 paar skoolskoene ingesamel wat aan skole in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, geskenk sal word. Verlede jaar is meer as 500 paar skoolskoene uitgedeel. Phiri sê baie kinders wat skoolskoene ontvang, se selfvertroue kry ʼn hupstoot en hulle hoef nie verleë te wees omdat hulle nie die regte skoene het nie. Hy sê hulle wil ook sanitêre produkte aan skoolmeisies gee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….