Nuus 06:00
BULLETIN 12 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula wil hê die tugproses teen drie senior ANC-lede moet hervat word
# Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent sal vandag die eerste keer in die hof verskyn
# En Olimpiese Spele: Die Sportkomitee is tevrede met die vertoning van Span SA in Parys
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula het glo die party se integriteitskommissie gevra om die tugproses teen Malusi Gigaba, David Mahlobo en Cedric Frolick te hervat. Die drie was onder die byna 100 lede wat die kommissie aanbeveel het wat van die party se verkiesingskandidaatlyste uitgesluit moes word. Sommige was betrokke by korrupsie en wydverspreide staatskaping. Die nasionale uitvoerende komitee het egter daarteen besluit. Die president van die ANC-veteraneliga, Snuki Zikalala, het aan die Sunday Times gesê daar sal opgetree word teen diegene wat uitgewys word vir vir staatskaping.
# Die voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, sal na verwagting vandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn, nadat sy Donderdag suksesvol deur die VSA uitgelewer is. Sy is een van Magashule se medebeskuldigdes in die asbesskandaal van 255-miljoen-rand. Cholota was aanvanklik ‘n sleutelgetuie in die saak, maar is aangekla nadat sy geweier het om met die staat saam te werk. Sy staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery. Cholota se regspan is optimisties dat sy borgtog sal ontvang.
#Die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika sê kapitalisme is die nuwe apartheid. Die unie sê onder apartheid was om swart te wees ‘n struikelblok vir gehalte-onderwys, gehalte-gesondheidsorg en ‘n lewe met waardigheid. Die woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê Suid-Afrikaners moet nou welgesteld wees om die voordele van vryheid te beleef. Hlubi-Majola sê sonder ‘n behoorlike inkomste word die werkersklas verhinder om ‘n waardige lewe en ware gelykheid te ervaar:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kultuur en Ontspanning, Matome Chiloane, sê die spertyd vir die 2025 aanlyn toelatingsaansoeke vir graad 1 en graad 8 is tot Woensdag middernag uitgestel. Dit volg na die staat se Inligtingstegnologie-agentskap die elektriese infrastruktuur van sy datasentrum opgradeer het, wat ‘n totale afsluiting van alle stelsels Donderdag genoodsaak het. Chiloane sê weens die onderhoud was die aanlyn stelsel tydelik ontoeganklik vir aansoeke:
# Rusland se ministerie van Buitelandse Sake het gewaarsku sy weermag gaan sterk reageer op die Oekraïnse oorgrens-inval in die Koersk-streek. Die klopjag is die diepste in Rusland se grondgebied sedert die begin van die volskaalse inval in Oekraïne in Februarie 2022. Meer as 70-duisend mense is uit die gebied ontruim. Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, sê sy land het die oorlog na die aggressor se gebied verskuif. Militêre kenners sê hierdie inval is waarskynlik bedoel om Russiese reserwes te onttrek aan die intense gevegte in Oekraïne se oostelike Donetsk-streek.
# Olimpiese Spele: Die portefeuljekomitee vir Sport, Kuns en Kultuur het met waardering kennis geneem van die prysenswaardige vertoning van Span SA in Parys. Die komitee se voorsitter, Joe McGluwa, sê sport bring die mense van die land bymekaar. McGluwa erken ook daar moet nog baie gedoen word om toe te sien atlete kry die nodige ondersteuning om te verseker Suid-Afrika wen nog meer Olimpiese medaljes:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-6-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-427-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….