Nuus 08:00
BULLETIN 11 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Silwermedalje vir Suid-Afrika se Jo-Ané van Dyk in die spiesgooi by die Olimpiese Spele
# Die ANC sê hy bly onwrikbaar verbind tot bevordering van vroue se ontwikkeling
# En, Mia le Roux maak geskiedenis as die eerste gehoorgestremde Mejuffrou Suid-Afrika
# Olimpiese Spele: Die spiesgooi-spesialis Jo-Ané van Dyk het Suid-Afrika gisteraand met nog ‘n silwermedalje in Parys verras. Van Dyk, wat voor die Spele 11de op die wêreldranglys was, se persoonlike beste gooi van 63,93-meter het aan haar die tweede plek, net-net ná die Japanese wêreldkampioen, Haruka Kitaguchi, besorg. Nikola Ogrodnikova van Tsjeggië het die bronsmedalje ingepalm. President Cyril Ramaphosa het Van Dyk gelukgewens en gesê sy maak alle Suid-Afirkaners trots. Met die Spele wat nou sy laaste dag binnegaan, het Span Suid-Afrika ses medaljes verower – een goud, drie silwer en twee brons.
En nog nuus van die Spele: Suid-Afrika se langafstandkampioen Gerda Steyn het ‘n groot uitdaging in vandag se vrouemarathon. Saam met haar is medelandgenote Irvette van Zyl en Olimpiese nuweling Cian Oldknow (uitgespreek Old-now). Die Ethiopiër Tamirat Tola het gister die mansmarathon gewen en goud ingepalm in ‘n nuwe Olimpiese rekord van twee-uur, ses-minute en 26-sekondes. Elroy Gelant van Suid-Afrika was elfde en Stephen Mokoka 27ste. En in die vier-maal-400-meter aflos vir mans het Suid-Afrika vyfde gekom. Hulle het aan die wedloop deelgeneem na Nigerië gediskwailfiseer is vir ‘n laanoortreding.
# Die ANC sê hy bly onwrikbaar in sy verbintenis om vroue se ontwikkeling te bevorder en te verseker dat geslagsgelykheid in alle sektore van die samelewing verwesenlik word. Die ANC se waarnemende woordvoerder, Zuko Godlimpi, sê Suid-Afrika se pad die afgelope 30 jaar het gewys die bemagtiging van vroue is nie net ‘n kwessie van geregtigheid nie, maar ‘n kritieke drywer van volhoubare ontwikkeling, ekonomiese transformasie en die bevordering van menseregte:
# Eskom doen ‘n dringende beroep op klante om onwettige verbindings te vermy ten einde openbare veiligheidsgevare en die risiko van netwerk-oorlading te voorkom, wat kan lei tot ladings-verminderingsmaatreëls en uitgebreide onbeplande kragonderbrekings. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hoewel die kragvoorsiener nou reeds amper 140 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag was, is hy steeds bekommerd oor onwettige elektrisiteitsverbindings, diefstal en vandalisme van noodsaaklike infrastruktuur:
# En ten slotte: Die 28-jarige Mia le Roux van Oudsthoorn in die Klein-Karoo is gisteraand by ‘n glansgeleentheid in Pretoria as Mejuffrou Suid-Afrika gekroon. Le Roux, wat in Sasolburg in die Vrystaat gebore is, is op eenjarige ouderdom met ernstige gehoorverlies gediagnoseer. Sy is ‘n model en bemarkingsbestuurder en studeer deeltyds B-Comm-bemarking. Nompumelelo Maduna van Rockville, Soweto, is as die eerste prinses gekroon, terwyl Onalenna Constantin van Potchefstroom in Noordwes, die tweede prinses is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….