Nuus 09:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society eis antwoorde oor bykans 44-duisend polisie-wangedragsake
# Die Kabinet vier vroue se verteenwoordiging op die regbank
# En, die Olimpiese Spele: Suid-Afrika se mans aflosspan ding vanaand in Parys mee om ‘n medalje
# Action Society vra vir dringende aanspreeklikheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens te midde van bewerings van roekeloosheid, nalatigheid en wangedrag, Met 43-duisend-954 sake wat hangende is en ‘n moontlike aanspreeklikheid van 65-miljard-rand, eis die organisasie ‘n onmiddellike antwoord van die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om hierdie kwessies aan te spreek en korrupsie in die mag te bekamp. Woordvoerder van Action Society, Juanita du Preez, sê dringende optrede is nodig om misdadige gedrag in die SAPD uit te wis:
# Met die herdenking van Vrouedag verwelkom die kabinet vroue se verteenwoordiging in die regstelsel. Dit is vandag die 68ste herdenking van die Vroue-optog en 70 jaar sedert die opstel van die vrouehandves. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die geskiedkundige aanstelling van regter Mandisa Maya as Suid-Afrika se eerste vrouehoofregter, is ‘n mylpaal vir die verbetering van geslags- en rasse-diversiteit in die regstelsel:
# Die Suid-Afrikaanse Stigting vir Vroue en Sport sê hoewel vordering gemaak is met vroulike verteenwoordiging, moet die sportsektor nog baie doen om geslagsgelykheid te bereik. Stigter Muditambi Ravele is vol lof vir beleid wat vroue in sport ondersteun. Sy het in ‘n gesprek met die SABC verwys na die rol wat verhoogde deelname speel in die bevordering van die bemagtiging van vroue en geslagsgelykheid:
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika se mans vier-maal-100-meter aflosspan neem vanaand aan die eindronde in Parys deel. Akani Simbine, wat vroeër vierde geëindig het in die briljante 100-meter wedloop, het uitgeblink in die halfeindstryd nadat Bayanda Walaza, Shaun Maswanganyi en Bradley Nkoana die grondslag gelê het. Amerika het die uitdun gewen, met Groot Brittanje wat die ander outomatiese kwalifiserende plek ingepalm het. Japan en Italië is ook deur as die vinnigste verloorders. In die ander halfeind het China, Frankryk en Kanada gekwalifiseer.
# En ten slotte: ‘n Nuwe kunswerk van Banksy is deur gemaskerde mans verwyder binne ure nadat dit onthul is. Die silhoeët van ‘n huilende wolf is Donderdag onthul en is die vierde in ‘n reeks van bevestigde Banksy-kunswerke wat vandeesweek regoor Londen verskyn het. Die eerste was ‘n bergbok Maandag, gevolg deur die silhoeët van twee olifante Dinsdag. Woensdag het drie apies op ‘n treinbrug verskyn. Met ‘n nuwe kunswerk elke dag hierdie week, word daar nou wyd gegis oor wat die diere-kunswerke mag beteken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….