Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake vra geduld met die Mej SA-finalis Chidimma Adetshina se burgerskapondersoek
# Die kabinet merk verhoogde lewensverwagting en gesondheidsorgverbeterings op
# En, rugby: Die Springbokke is gereed vir die onbekende teen die Wallabies
# Binnelandse Sake vra ruimte vir die afhandeling van die ondersoek na die burgerskap van ‘n Mej SA-deelnemer. Voorlopige verslae dui aan Chidimma Adetshina se ma het dalk bedrog en identiteitsdiefstal gepleeg. Dit gebeur dae voor Saterdag se eindronde van die kompetisie. Die departement beklemtoon sy toegewydheid aan deursigtigheid, maar sal nie verder in die openbaar kommentaar lewer totdat die ondersoek afgehandel is nie. Suid-Afrikaners word aangemoedig om behoorlike prosesse te respekteer terwyl hulle ook die opstook van verdeeldheid vermy.
Verskeie mediagroepe berig intussen dat Adetshina aan die kompetisie onttrek het.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet merk aansienlike verbeterings in die gesondheidsorgstelsel op, wat die vehoging van die lewensverwagting tot 66 jaar insluit. Die vordering word toegeskryf aan verbeterde gesondheidsorg-ingrypings, soos uitgebreide anti-retrovirale terapie en inentingsprogramme. Volgens Ntshavheni lig die styging in lewensverwagting en vermindering van babasterftes die positiewe uitwerking uit van regeringsgesondheids-programme op openbare welstand:
# Die DA verwelkom die onderneming deur die administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Freeman Nomvalo, om die uitdagings te takel waarmee die skema te kampe het. Die skema, met ‘n jaarlikse begroting van miljarde rande, verskaf studielenings aan kwalifiserende studente aan tersiêre instellings en het talle uitdagings, insluitend tekortkomings met die toewysing van fondse aan miljoene van sy begunstigdes. Desiree van der Walt van die DA sê sy gaan vra dat NSFAS in die derde termyn rekenskap aan die Parlement gee:
# Die Stad Kaapstad sê meer as 100 motoriste skuld die stad miljoene rand se onbetaalde verkeersboetes. Dit volg op Dinsdag se inhegtenisneming van twee taxibestuurders wat elkeen minstens 100-duisend-rand skuld. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad is bewus van die kwessie maar skryf herhaalde oortredings toe aan ‘n gebrek aan toegewese taxibane gedurende spitstye. Woordvoerder Makhosandile Tumana voer aan pendelaardruk is die rede vir die herhaalde oortredings en nie eienaars-teikens nie .
# Rugby: Die Springbokke maak gereed om Saterdag in Brisbane met die Wallabies kragte te meet in die openingswedstryd van die Rugbykampioenskap. Anders as destyds met Super Rugby toe die spelers mekaar gereeld aangedurf het, is daar baie onbekende faktore vir albei spanne, met die Suid-Afrikaanse spanne wat nou in die noordelike halfrond speel. Om tot die onsekerheid by te dra, het Australië ook ‘n nuwe afrigter. Die Bok-stut Ox Nché sê hulle moet eenvoudig voorbereid wees op enigiets:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-236-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-413-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….