Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Afrikaanse televisiereekse is besig om al gewilder te raak in Asië, waaronder Wyfie. Dit handel oor vier koshuis-kamermaats wat nie goed oor die weg kom nie. Die aktrises is Beáta Bena Green, Celeste Loots, Kristen Raath en Mienke Ehlers. Die reeks geregisseer deur Johan Cronjé is op die Seoulse Internasionale Drama-toekennings benoem as beste internasionale reeks. Spinners op Showmax met Cantona James en Dillon Windvogel is ook gewild in Shanghai en het die toekenning vir die beste buitelandse TV-reeks op die Shanghaise TV-fees verower.
# Winter is besig om verby te gaan en Suid-Afrika se veldblomme staan binnekort in volle blom. Namakwa Nasionale Park in die Noord-Kaap en die Weskus Nasionale Park in die Wes-Kaap bly gewilde bestemmings. In die Noord-Kaap begin Namakwa-gousblomme en meer as drie-duisend-500 blomspesies van vroeg in Augustus tot einde September blom en sorg vir een van die wêreld se mooiste skouspelle. Die Weskus Nasionale Park se Postberg-afdeling is nou oop en bied aan besoekers geleentheid om die asemrowende prag van die blomseisoen te beleef.
# Vyftien kinders gaan kunsbene ontvang deur ‘n vennootskap tussen die Walter Sisulu-universiteit se Departement van Rehabilitasie en die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement. Die program, wat 30 jaar van demokrasie herdenk, behels die giet van die prostese en besoeke aan Mthatha, Gqebera en Oos-Londen vir aanpassings. Siphosethu Mgwili van die universiteit sê hulle gaan kinderprostese-komponente van die universiteit gebruik en die kunsbene gaan in Mthatha vervaardig word en aan die einde van die maand aan die kinders oorhandig word.
# Professor Lesibana Rafapa van die Universiteit van Limpopo het die gesogte toekenning, Genoot van die Engelse Akademie, van die Engelse Akademie van Suidelike Afrika ontvang. Dit gee erkenning aan sy aansienlike bydraes tot die bevordering van Engelse studies en Noord-Sotho letterkunde. Die universiteit sê die toekenning gaan aan verdienstelike raadslede van die akademie en nie-lede wêreldwyd wat buitengewone diens lewer om Engels as aangepaste wêreldtaal te bevorder. Rafapa is die eerste lid van die universiteit wat die toekenning ontvang.
# En ten slotte, Belize, ‘n klein landjie in Sentraal-Amerika, is aangewys as die beste plek vir gesinsvriendelike bedrywighede, met 24,78-persent van al sy aantreklikhede wat op kinders gemik is. Dis volgens die toeroperateur Go2Africa. Belize bied ʼn verskeidenheid besienswaardighede aan wat wissel van pragtige strande tot kultuurterreine soos die antieke Maja-ruïnes van Xunantunich. Costa Rica, met meer as 500-duisend natuurlewespesies, is tweede. Die ander lande in die topvyf is Brasilië, Samoa en Vanuatu.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….