Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet verwelkom die suksesse in die stryd teen georganiseerde misdaad
# SALGA sê munisipaliteite sukkel met watergehalte en -bronne
# En, Olimpiese Spele: Akani Simbine laat die mans-aflosspan in die eindronde inbars
# Die kabinet loof die onlangse suksesse in die stryd teen georganiseerde misdaad, wat die inhegtenisneming insluit van meer as 700 verdagtes. Dit sluit ‘n noemenswaardige operasie in wat gelei het tot die ontdekking van ‘n onwettige militêre opleidingskamp en die aankeer van 95 Libiese burgers in Mpumalanga. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het die media toegespreek en die optrede veroordeel van sommige gemeenskapsleiers wat skoolveiligheid in gevaar gestel het deur leerders en onderwysers te dreig:
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging lig die belangrikheid uit van samewerking tussen alle regeringsvlakke om toegang tot skoon water te verseker. SALGA se president, Bheki Stofile, het op ‘n vergadering in Polokwane, Limpopo, gesê die meeste munisipaliteite, veral in landelike gebiede, sukkel met watergehalte en -bronne. Stofile vra sterker tussen-regerings-finansiële steun. Die burgemeester van die Sekhukhune-distriksmunisipaliteit, Minah Bahula, het daarop die sink van boorgate aangekondig as ‘n tydelike maatreël teen watertekorte.
Die Stad Kaapstad se direktoraat vir Water en Sanitasie sê intussen hy is gereed om die goedgekeurde kapitaalbegroting van vyf-miljard-rand vir die 2024/’25-boekjaar tot voordeel van inwoners aan te wend. Die totale begroting is 18-miljard-rand, waarvan vyf-miljard vir kapitaal- en 13-miljard vir bedryfsbesteding is. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê voorkeure sluit in Kaapstad se toekomstige watervoorsiening sodat daar altyd toegang tot drinkwater van goeie gehalte is, en om die oorvloei van riool te keer:
# Olimpiese Spele: Akani Simbine het gesorg vir ‘n briljante laaste skof vir Suid-Afrika se vier-maal-100-meter mans-aflosspan om hulle te laat deurdring na die eindronde. Hy moes inhaal om tweede te eindig na Amerika. Suid-Afrika se ander naellopers is Shaun Maswanganyi en die tieners Bayanda Walaza en Bradley Nkoana. Marioné Fourie het intussen haar heruitdun gewen om in te sluip in die halfeindronde van die 100-meter hekkies vir vroue.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-345-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-398-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: Vyftien kinders gaan kunsbene ontvang deur ‘n vennootskap tussen die Walter Sisulu-universiteit se Departement van Rehabilitasie en die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement. Die program, wat 30 jaar van demokrasie herdenk, behels die giet van die prostese en besoeke aan Mthatha, Gqebera en Oos-Londen vir aanpassings. Siphosethu Mgwili van die universiteit sê hulle gaan kinderprostese-komponente van die universiteit gebruik en die kunsbene gaan in Mthatha vervaardig word en aan die einde van die maand aan die kinders oorhandig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….