Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Augustus 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Presidensie het bekend gemaak dat sowat elf-miljard-rand wat bewillig is vir die ondersteuning van Suid-Afrika se Beleggingsplan vir Billike Energie-oordrag nou aan projekte toegeken is. Die Europese Unie, Duitsland, Frankryk, Brittanje en die VSA is in ‘n vennootskap om die land se teikens vir klimaatoptrede te ondersteun. Dit word gedoen deur die oorgang van steenkool na skoner en hernubare energiebronne te help finansier. Befondsing is aan Eskom, staatsdepartemente, universiteite en wetenskaplike rade verskaf. Suid-Afrika benodig 1,5-duisend-miljard-rand se beleggings om sy billike oordrag oor die volgende vyf jaar te ondersteun.
# AfriForum het sy jaarlikse program afgeskop om Suid-Afrika se water te toets. In Augustus toets takke landwyd die gehalte van drinkwater en water by suiweringsaanlegte. Die uitslag sal in die burgerlike organisasie se blou- en groendruppelverslag bekendgemaak word. Die Departement van Water en Sanitasie se blou- en groendruppelverslag het verlede jaar getoon 46-persent van drinkwater is mikrobiologies onveilig vir menslike gebruik, terwyl 67,6-persent van alle rioolbehandelingsaanlegte in die land in ‘n hoë of kritieke risiko-kategorie val.
# En ten slotte: Winter is besig om verby te gaan en Suid-Afrika se veldblomme staan binnekort in volle blom. Namakwa Nasionale Park in die Noord-Kaap en die Weskus Nasionale Park in die Wes-Kaap bly gewilde bestemmings. In die Noord-Kaap begin Namakwa-gousblomme en meer as drie-duisend-500 blomspesies van vroeg in Augustus tot einde September blom en sorg vir een van die wêreld se mooiste skouspelle. Die Weskus Nasionale Park se Postberg-afdeling is nou oop en bied aan besoekers geleentheid om die asemrowende prag van die blomseisoen te beleef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….